Curriebekerrugby laat die hare steeds rys

Afgewater?

Watwou afgewater, daar is nog baie lewe in die Curriebekereeks oor!

Wanneer laas het gebeur dat  vier van die sogenaamde vyf grotes (en die Pumas) in ʼn hewige stryd gewikkel is om te bepaal wie saam met die Sharks in die uitspeelwedstryde betrokke sal wees?

Ek wil my kop op ʼn blok sit, wanneer die twee uitspeelwedstryde in die halfeindronde op 21 Oktober en die eindstryd op 28 Oktober plaasvind, sal die belangstelling hoog loop die kaartjies straks uitverkoop wees.

Dít sonder die Springbokke.

♦  Die Goue Leeus (25 punte), wat die Blou Bulle Saterdag met 36-33 op Ellispark geklop het, tree al hoe sterker na vore en het saam met die Vrystaat Cheetahs, wat die naweek ʼn loslootjie gelaat het, in die gesamentlike twee plek  ingeskuif.

Dit was ʼn tipiese derby-wedstryd; min is gegee en gevra en die uitslag was tot aan die einde in die weegskaal.

Hou die Bulle maar dop, onder John Mitchell leer hulle nuwe vaardighede vinnig aan. Só ook ontwikkel Swys de Bruin ʼn nuwe geslag Leeus.

♦  Die Sharks (39) het Vrydagaand hul agtste agtereenvolgende sege behaal toe hulle Griekwas met 40-22 in Kimberley geklop het. ʼn Tuiswedstryd in die halfeindronde op Kingspark en dan nog ʼn moontlike eindstryd in Durban wag.

Die Sharks speel soos Robert du Preez jare gelede vir Noord-Transvaal saam met Naas Botha. Beperk foute tot ʼn minimum, maak sag voor en slaan dan agterlangs.

♦  Die Westelike Provinsie (22 punte), wat Vrydagaand in die Mbombela-stadion met 12-22 teen die Pumas (ook 22 punte) vasgeval het, se pad is nou vol slaggate.

Iets  haper by die Streeptruie, want die een week kook hulle en dan is hulle weer louwarm. Het die probleme in die raadsaal nou ook na die spelers oorgespoel?

♦  Die Pumas? Hulle klou soos nete, duik hulle nerwe af, rolmaal die ander spanne. Kan hulle dit verder maak.

Sjoe.

Jongste puntestand ná nege wedstryde (die Vrystaat, WP en Blou Bulle het net agt gespeel) –

Sharks (39), Vrystaat-Cheetahs (25), Goue Leeus (25), Westelike Provinsie (22), Pumas (22), Blou Bulle (20), Griekwas (16).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Die gehalte van Curriebeker rugby is ne juis iets om oor gewonde te raak nie.Die probleem is dat ons nie meer weet wat goeie rugby is nie.

rollie ·

Geneig om saam te stem, iemand wat opgewonde raak oor hierdie afgewaterde affere is maar met min tevrede. Ek stem ook saam dat ons die gehalte van ons spel oorskat (ons lyk net goed as ons teen ons eie spanne speel).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.