Curriebekerrugby: Waar’s die kersie op die koek?

(Argieffoto)

Groot kommer heers oor die gehalte van rugby wat tot dusver dié seisoen in die Curriebekerreeks uitgestal is.

Dit is nie mosterd na die maal nie, want maande lank is in wedstrydverslae oor die oënskynlike gebrek aan ondernemingsgees gekla. En oor oninspirerende wedstrydplanne.

Ja, daar is ʼn magdom versagtende omstandighede, soos die wedstrydfiksheid van die spelers wat gelol het nadat die Covid-19-pandemie die Superrugbyreeks te pletter geloop het, die verskuiwing van seisoene, aangesien daar nou in die middel van die somer rugby gespeel word, die algehele afwesigheid van toeskouers wat bra goor vir die spelers moet wees, die afstel van die Skotse toer in Julie, die afstel van die toer na die Noordelike Halfrond aan die einde van verlede jaar, die onsekerheid oor die toekoms, die inkorting van die spelers se salarisse, die jaarlikse uittog van spelers na die buiteland, die gehalte van sommige skeidsregters en ʼn magdom spelers wat onder Covid-19 deurgeloop het.

Daar was egter ʼn algehele afplatting, met die klem wat eerder op taktiese skopwerk, hoogskop-en-storm, rolmale en nogmaals rolmale en oorheersing in die skrums gelê het, wat tot strafskoppe gelei het.

Is dit nie dalk die uitvloeisel van die Wêreldbekertoernooi in 2019 in Japan nie?

Daar was baie minder ondernemingsgees, minder drieë, baie meer strafskoppe.

Volgens Swys de Bruin, die oud-Leeu-afrigter, was die mikpunt om in die Superreekse van 2017 en in 2018 die bal vir 40 minute in spel te hou. Spanne was daarmee tevrede wanneer 35 tot 36 minute gehandhaaf is.

En vanjaar? Die bal was maar tussen 24 en 26 minute in spel.

Kom ons kyk na die drieëdroogte: Vanjaar het die sewe spanne elkeen 12 wedstryde gespeel, ʼn totaal van 84 (daar is wel ʼn paar wedstryde vanweë Covid-19 afgestel, maar dit kan op die een hand getel word). Daar is slegs 212 drieë gedruk, ʼn gemiddeld van 2,52 per wedstryd.

Natal hou steeds die rekord vir die meeste drieë in die Curriebekerreeks toe hulle in 1996 ʼn allemintige 97 drieë gedruk het en die Blou Bulle met 93 gevolg het. Ja, dit was nie ʼn krag teen krag in die uitspeelrondes nie, maar wat het van die balvaardighede en afronding geword?

In 2011 toe die Leeus soos ʼn vars briesie deur die Curriebekerreeks (krag teen krag) getrek het, het hulle 52 drieë gedruk en die Vrystaat-Cheetahs het 58 gedruk.

In die 112 wedstryde wat toe gespeel is, is 369 drieë gedruk – ʼn gemiddeld van 3,29.

Baie dinge was abnormaal in 2020 en daar was nie te veel lig in die tonnel te sien nie.

Dalk lewer volgende Saterdag se twee halfeindstryde uithalerspel op om nuwe hoop vir die toekoms te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.