Curriebekerspan berei in Frankryk voor

Soos die Suid-Afrikaanse Superrugbyspanne meermale doen, gaan ʼn Curriebekerspan nou ook oorsee vir die plaaslike reeks voorberei.

Die Westelike Provinsie, die huidige Curriebekerkampioen, sal twee wedstryde in Frankryk speel.

Luidens ʼn verklaring deur die bond, wat Donderdag in Kaapstad uitgereik is, speel die WP op 7 Augustus teen Narbonne en op 11 Augustus teen Montpellier.

Laasgenoemde, met heelwat Suid-Afrikaners in sy geledere, was eerste op die punteleer in die Top14-reeks, maar is deur Castres in die eindstryd getroef. Gesien hoe Suid-Afrikaanse Superspanne voorheen in littelosmakers teen die sterk Europese klubs gevaar het, is dit onwaarskylik dat Montpellier met sy groot kanonne op die Streeptruie sal losbrand.

Narbonne het verlede seisoen heel laaste in die Franse tweedevlakreeks, die Pro D2-liga, geëindig, en kon net sewe van sy 30 kragmetings wen.

Dis weliswaar op Montpellier se uitnodiging, maar dit val nogtans vreemd op dat ʼn bond só ʼn stralerjakker-safari aanpak, wat, ondanks volgehoue ontkenning, nie daarin slaag om hardnekkige bewerings die nek in te slaan nie dat hy op die randjie van bankrotskap verkeer. Hy was in Desember nog met van sy personeel haaks oor sy finansiële verpligtinge teenoor hulle, is berig.

Betaal Montpellier al die koste? Wag daar dalk ʼn meevallertjie wat die WP-skatkis kan help vul?

Paul Zacks, die WP Rugbygroep se uitvoerende hoof, meen daar is “enorme potensiaal vir handelsgeleenthede tussen ons onderskeie vooraanstaande spanne”.

Hy sê in die verklaring dis deel van die WP se strategiese plan om sy handelsmerk na nuwe gebiede te neem.

♦ Die Blou Bulle skop hul voorbereiding op ʼn veel beskeier skaal af, en reis na Worcester waar hulle teen Boland te staan sal kom.

Die nuwe afrigter, Pote Human, het onder andere die Blitsbokke Heino Bezuidenhout en Carel du Preez in sy groep van 28 spelers ingesluit.

Nóg ʼn nuwe gesig is dié van die blitsige Witsie-vleuel, Dan Kasende.

Hanro Liebenberg, ʼn oudleerling van die Hoër Tegniese Skool Drostdy in Worcester, sal die Bulle op sy ou tuisdorp aanvoer.

Die wedstryd begin 16:30 op Esselenpark.

Die Blou Bulle-groep –

Agterspelers

Divan Rossouw, Earll Dowrie, Dan Kasende, Xolisa Guma, Chris Hollis, Franco Naudé, Heino Bezuidenhout, JT Jackson, Tony Jantjies, Manie Libbok, Theo Maree, André Warner.

Voorspelers

Hanro Liebenberg, Nick de Jager, Jano Venter, Paul Schoeman, Boom Prinsloo, Ruan Steenkamp, Carel du Preez, Hendré Stassen, Ruan Nortjé, Ruben van Heerden, Dayan van der Westhuizen, Conraad van Vuuren, Simphiwe Matanzima, Matthys Basson, Edgar Marutlulle, Corniel Els.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.