Curro-skool spog met immergroen rugbyveld

Curro Durbanville spog met die eerste volgrootte rugbyveld van sy soort in die land. Foto: Verskaf.

Curro Durbanville het die eerste volgrootte Rhino Turf-rugbyveld in Suid-Afrika. Die sintetiese grasoppervlak spog met die jongste tegnologie en voldoen onder meer aan Wêreldrugby en Fifa se internasionale standaarde.

’n Opgewonde Dirk van Zyl, die skool se uitvoerende hoof, het aan Maroela Media bevestig dat die skool nou in staat is om van die land se grootse wedstryde aan te bied.

“Dit voldoen aan al die vereistes. By Windhoek Gimnasium speel Namibië se nasionale span op ’n soortgelyke veld. Tydens die openingsgeleentheid het die Stormers se Johan du Toit gesê dat hy en sy spanmaats die geriewe moontlik sal kom uittoets,” het Van Zyl gesê.

Dit het tien maande geneem om die projek te voltooi en instandhouding behoort geen probleem te wees nie: Die skool het ’n dienskontrak met Turf-Tech vir die onderhoud onderteken en volgens Van Zyl is die dae van grassny en gereelde besproeiingsessies iets van die verlede.

Daarbenewens sal die watertekort in die Wes-Kaap nie meer ’n probleem wees nie, terwyl die skool ook dan terselfdertyd sy kant bring om water te bespaar. Wat estetiese waarde betref sal Curro Durbanville dwarsdeur die jaar met ’n pragtige rugbyveld spog.

“Die veld beteken oneindig baie vir die skool en ons is opgewonde dat toekomstige rugbysterre daarop kan oefen.”

“Ons is dankbaar vir geriewe waar die leerders hul talente kan ontwikkel en gebalanseerd lewe. Ons sonskynland leen hom daartoe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.