Curwin Bosch kan hom by Gerald Bosch aansluit

Curwin Bosch (Foto sharksrugby.co.za)

Wanneer ʼn begaafde rugbyspeler met ʼn van soos Botha, Bekker, Du Plessis en Bosch na vore tree, word daar altyd gewonder of hy nie dalk familie van Naas, die beroemde Bekker-broers, Morné of Gerald, is nie.

Ek het Curwin Bosch sowat drie jaar gelede die eerste keer sien speel toe hy op Grey College in Port Elizabeth op skool was. Is hy nie dalk familie van Gerald Bosch nie, het almal gewonder.

Nee, Curwin Bosch het geen familiebande met Gerald Bosch, die oud-Boklosskakel van Transvaal wat in nege toetse vir die Bokke tussen 1974 en 1976 gespeel het en 89 punte aangeteken het nie.

Maar Curwin borrel net soos Gerald destyds ook oor van natuurlike talent. Hy is vinnig, het visie, soveel meer tyd as die spelers om hom om besluite te neem en is ʼn uitstekende skopper.

Met ander woorde, hy is pure goud.

Ja, hy is nog baie jonk, broos  en moet dalk nie te vinnig aan die diepkant ingegooi word nie.

Maar hoe sê Naas Botha? Wanneer jy goed genoeg is, is jy oud genoeg.

Dis hoekom Bosch by die Sharks reg geslyp word, reg grootgemaak word, reg bestuur word. Dit sal my nie verbaas wees as hy voor die einde van die jaar in ʼn Boktoerspan ingesluit word nie.

Bosch (Gerald) was goed, baie goed en een van die baanbrekers van Springbokrugby, want hy was die eerste Bokskopper wat om die draai en met die binnevoet aangelê het pale toe.

Volgens die rekordannale het  Wilf Wooler in die 1930’s die eerste keer om die hoek geskop en het Willie Horne dit in die 1940’s in rugbyliga vervolmaak. Onthou, dit was met ʼn agtnaat-leerbal, wat seepglad en loodswaar geword het. As dit in  nat weer was.

Bosch het gevolg en dit in Suid-Afrika vervolmaak. Is daar nog enige seun of speler vandag wat nog met die toon pale toe aanlê? Wie onthou nog vir Ian McCallum, Chris Luther, Dudley Gradwell en Alan Menter?

Bosch het vir Vereeniging klubrugby gespeel en daar was Saterdae dat hy byna man-alleen vir Diggers, met 14 Transvaalspelers in hul geledere, ore aangesit het.

Bosch, wat later Australië toe geëmigreer het, was nie net ʼn skopper nie, maar hy kon ook sy agterlyn seepglad wegkry. Hy het saam met briljante senters soos Peter Cronje en Peter Whipp gespeel en in 1976 het Johan Oosthuizen en Whipp langs hom die All Blacks grys hare besorg.

Nou staan Curwin Bosch ook voor daardie deur wat wag om oopgemaak te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dirkie ·

Curwin kan die volgende Dan Carter word, maar ek stem nie saam die skrywer nie. Natal/Sharks het die vermoee om n jong spelers se loopbane op te mors. Hy speed Dan heelagter Dan loskakel. Ek dink aan n Gaffe du Toit, Brent Russel, Frans Steyn en kyk na Pat Lambie, natural 4 Jr steeds Dan heelagter Dan loskakel. So asb Curwin teken by Lions of Stormers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.