Daar heers ook ʼn rugbydroogte in Bloemfontein

Daar is nie net ʼn groot skroef los in die Oos-Kaap by die Southern Kings nie, maar die Vrystaatse rugbybase lê sekerlik ook wakker oor hul toekoms.

Hoekom? Want die Cheetahs se hoofafrigter, Rory Duncan, vat binnekort die grootpad na die Worcester Warriors in Engeland; hul kaptein Francois Venter gaan hom volg; die uittog van ander spelers duur voort, dink maar aan hul drie beste vleuels, Makazole Mapimpi (Sharks) en Raymond Rhule en Sergeal Peterson (albei Stormers).

Boonop is die Shimlas Maandagaand met 49-12 deur die UJ (Universiteit van Johannesburg) in die Varsitybeker-reeks afgeslag en loop die Ixias die gevaar om laaste in die reeks te eindig en dus outomaties afgeskuif te word.

As dit gebeur, sal hulle vir twee jaar saam met nie-tradisionele rugbyspelende universiteite soos Walter Sisulu, Kaapse Skiereiland, Fort Hare, Rhodes en die Kwazulu-Natal se Impi’s in die Varsityskild-reeks speel. Niks meer regstreekse TV-dekking op Maandagaande nie, net vir minstens twee jaar aan die agterspeen suig.

Die Vrystaatse Cheetahs was nog al die jare die voerband van Suid-Afrikaanse rugby. Hulle het hordes spelers grootgemaak net om deur ander bonde geoes te word. Dink maar aan Theuns Stofberg, André Joubert, Gerrie Germishuys, Henry Honiball, Ollie le Roux, Edrich Krantz, Jannie en Bismarck du Plessis, Deon Stegmann, Richardt, Andries en Adriaan Strauss en Philip van der Walt.

Maar Vrystaat het nog altyd sy man gestaan, ondernemende rugby gespeel en jong talentvolle spelers geslyp en grootgemaak.

En nou?

As die Cheetahs nie hul man behoorlik in die Pro14-reeks kan staan nie (hulle het reeds agt uit 16 wedstryde verloor), as die Shimlas nie die uitspeelrondes van die Varsitybekerreeks haal nie, as die Ixias dalk afskuif, watter ouers sal hul talentvolle seuns Bloemfontein toe stuur?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.