Daar is baie volbloed-resiesperde op die rugbyveld

Perry Baker laat die All Blacks na lug gryp (Foto: You Tube)

Dis ʼn belewenis om ʼn volbloed-resiesperd in aksie te sien, en net so is dit ʼn blywende ervaring om ʼn atletiese rugbyspeler te sien galop.

Diegene van ons wat lank terug kan onthou, sal aan Sea Cottage, Politician, Horse Chestnut, Colorado King, Hawaii en Harry Hotspur terugdink en hoe hulle ons hoendervleis laat kry het.

Baie van ons was nooit eens naby ʼn perdewedrenbaan nie, maar wanneer die Durban July aangebreek het, was ons almal kenners; ons het almal ʼn wenk van iewers af ontvang, ons het almal ʼn groot  gunsteling gehad wat nie kon verloor nie en ʼn buiteperd wat nooit gewen het nie.

Daar is oor die July gedroom. Ons het die oefenlopies die week voor die ren op die voorblaaie van die koerante gevolg. Ons was in sak en as toe Sea Cottage drie weke voor die July geskiet is, maar toe gelukkig wonderbaarlik herstel het om vierde te eindig.

Ons was die Vrydagaand voor die July in die sitkamer voor die televisiestel vasgenael om te sien wat die sangoma dink wanneer hy sy bene en klippies gerol het … en dan in vreemde tale gebabbel het met ʼn perd of twee se naam daartussen.

Dis hoekom dit ʼn voorreg is om ʼn atleet op die rugbyveld te sien pronk. Dink maar aan Jaco Reinach, Pierre (sr.) Spies en Herman Venske. Ook aan Seabelo Senatla, Bryan Habana en Tonderai Chavhanga .

Dis ook hoekom dit ʼn belewenis was om die twee Amerikaners Perry Baker en Carlin Isles die afgelope naweek vir die Amerikaanse sewesspan in Las Vegas te sien skitter.

Ja, dit was ʼn teleurstelling toe die Blitsbokke net vierde kon eindig, maar gaan kyk maar na Baker (wat soos ʼn kiewiet lyk) se drieë: dis pure poesië.

Dit het my laat terugdink aan nog ʼn atleet, die Boere-Griek Savvas Thomaides.

Thomaides was in 1966 die hoofseun van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, die jaar toe die Tralies onoorwonne was en onder meer vir Grey Kollege geklop het.

Thomaides, wat later een van die land se topneuroloë geword het, het ʼn beroering veroorsaak elke keer wanneer hy vir Tuks – en Noord-Transvaal – aan die bal geraak het.

Hy was kort, kragtig en blitsvinnig en sou onstuitbaar in sewesrugby gewees het, net soos Senatla, Baker en Isles.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yankee ·

Hierdie Baker boet hol blykbaar 42 myl per uur met n bal!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.