Daar is diamante op klubvlak

Melani Nanai (Foto: The Blues)

Melani Nanai (Foto: The Blues)

Daar loop baie klubspelers in Suid-Afrika en Nieu-Seeland rond wat deur die net glip.

Dis deesdae byna ongehoord dat `n speler wat nie reeds op die Grant Khomo-skoleweek vir o.16-spelers raakgesien is nie, die paal in Suid-Afrika sal haal.

Dis juis dan wanneer afrigters (op alle vlakke), werwers, agente en die unies se uitvoerende hoofde toesak, gereed om toe te slaan. Dit word voortgesit op die Cravenweek wanneer daar met nog `n groot gros spelers oor hul toekoms gesels word en sake beklink word.

Daar is niks verkeerd daarmee nie, huiswerk moet reeds van vroeg af gedoen word, want daar is sprake dat Frankryk werwers op die Cravenweek het wat die room van jong Suid-Afrikaners wil weglok.

Dit gebeur ook in Nieu-Seeland dat spelers op klubvlak nooit raakgesien word nie.

Die oud-All Black-senter Frank Bunce weet waarvan hy praat, want hy moes jare lank dieselfde paadjie stap, om nie een van die uitverkorenes te wees nie. Bunce, wat reeds in 1984 vir Auckland se B-span gespeel het, het eers in 1992 ‘n All Black geword en in 55 toetse gespeel. Hy is steeds die tweede oudste Nieu-Seelander wat vir Nieu-Seeland gespeel het, nadat hy in 1991 vir Samoa in die Wêreldbekertoernooi gespeel het.

Nou het Bunce ‘n diamant ontdek, die 22-jarige Samoaan Melani Nanai, wat vir die Blues Supperrugby speel.

Net soos Bunce, speel Nanai ook vir die klub Manuakau Rovers nadat hy van die Otahuhu-klub daarheen gelok is. Net soos Bunce is hy `n uitstekende verdediger, met `n briljante aftrap. Net soos Bunce (wat aswaens bestuur het)  onderhou hy sy gesin (Nanai pak kartondose in `n pakhuis in Auckland) en net soos Bunce het hy All Black-drome, hoewel daar  nog baie skaafwerk nodig is.

Volgens stuff.co.nz het Nanai in 1999 saam met sy ouers na Nieu-Seeland verhuis om `n lewe te probeer uitkerf. Hy is terug Samoa toe om sy skoolloopbaan daar te voltooi.

Terug in Nieu-Seeland het Bunce hom op klubvlak raakgesien en staan hy op die drumpel van sukses.

“Daar is `n storie om te vertel,” het Bunce aan die Nieu-Seelandse webwerf gesê. “Daar is baie spelers in klubrugby want deur die net glip, want hulle gaan nie deur die regte kanale (in Nieu-Seeland is dit rugbyakademies) nie,” sê Bunce .

Dis hoekom dit belangrik is dat klubrugby nooit afgeskeep moet word nie … want  daar is baie diamante wat ontdek en ontgin moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.