Daar is geen verskonings vir rugbyspelers nie

Stephen Donald – ʼn voorbeeld van vasbyt (Foto: chiefs.co.nz)

Aanhouer wen.

Dit is die les wat alle rugbyspelers by Stephen Donald, die veelsydige veteraan-agterspeler van die All Blacks en Chiefs, kan leer.

Donald (33), het hom reeds in 2002 vir sy B-graad in Bestuurstudies aan die Universiteit van Waikato ingeskryf en ontvang Woensdag sy graad ná 15 jaar se swoeg, sweet en deurdruk.

Net soos in sy rugbyloopbaan, het Donald dit treetjie vir treetjie geneem, een of twee vakke per jaar. Hy het sy studies tydelik onderbreek toe hy in 2011/’13 vir Bath in Engeland en daarna in Japan  gespeel het, maar nooit opgehou nie. Met sy terugkeer na Nieu-Seeland het hy weer agter die lessenaar ingeskuif en verder studeer.

Donald, wat reeds in 2002 vir Counties Manukau begin speel het, spog met 90 Superwedstryde vir die Chiefs en 23 toetse vir die All Blacks.

Hy is nie die mees talentvolle speler nie, maar het aangehou, vasgebyt en deurgedruk. Hy is die sout van die aarde, niks het na sy kop toe gegaan nie en hy knyp altyd ʼn tydjie af om met jou oor rugby te gesels.

Donald is in Oktober 2010 verguis toe hy in ʼn Bledisloetoets teen die Wallabies nie die kantlyn met sy laaste buitelynskop kon vind nie. Die Wallabies se James O’Connor het ná ʼn teenaanval die wendrie gedruk en Donald se loopbaan was aan skerwe.

Maar hy het vasgebyt, aangehou en deurgedruk.

Hy was die All Blacks se vierdekeuse-losskakel in 2011 en was langs die viswaters in Waikato toe hy ʼn noodoproep van die All Black-afrigter, Graham Henry, ontvang het om hom by die All Blacks se Wêreldbekergroep vir die halfeind- en eindstryd in Nieu-Seeland aan te sluit. Dan Carter was beseer, so ook Colin Slade en toe slaan die noodlot ook op Aaron Cruden in die eerste helfte van die eindstryd teen Frankryk in Auckland toe.

Daar was nie eens genoeg tyd om ʼn nommerpas-trui vir Donald te laat maak nie en hy was glad nie wedstrydfiks nie.

Maar ná 51 weke se verguising het sy dag aangebreek en het hy die wenskop oorgeskop om die All Blacks die Wêreldbeker te laat wen.

Die ervare Ierse rugbyskrywer Neil Francis het hom as die swakste Wêreldbeker-losskakel nog in ʼn eindstryd beskryf. Maar wie gee om, want daar is al ʼn fliek oor die wenskop gemaak, ʼn klein winkelsentrum en kroeg en sy klub Waiuku se hoofveld is na Donald vernoem en hy word steeds op die hande gedra.

Woensdag is hy by nog ʼn groot mylpaal na jare se vasbyt, aanhou en deurdruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Honibal ·

Welgedaan met die prestasie Beaver. Jy is voorwaar ‘n voorbeeld vir die jonger spelers, op en van die veld.

Tc ·

Dit was al opgedis op Maroela Media paar maande terug,nou weer!!Waarvoor die ophemeling van n All Black speler,wat van ons vergete Springbok helde wat ook erkenning verdien????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.