Daar is GROOT probleme op Loftus

Erosie vind nie oornag plaas nie, dit neem jare vir die grond om weg te kalwe.

Netso sal dit dalk jare neem om te herstel, as dit ooit gebeur.

Ja, daar sal indringend na die Bulls se vertonings in vanjaar se Superreeks gekyk moet word, maar is dit ʼn kitsoplossing om nou van die afrigtingspan of uitvoerende hoof ontslae te raak?

Daar bestaan nie iets in rugby soos Annique se oornag-wonderroom nie. Daar is dieperliggende probleme.

Ja, die afrigtingspan is onervare en ding die eerste keer met Nieu-Seelandse spanne in die Superreeks mee; ja, baie spelers gaan speel oorsee en daar is ʼn rits beserings; ja, Tukkies het die Varsitybekerreeks gewen en baie jong Bulle speel vir die SA o.20-span en ja, daar word baie vir ontwikkeling gedoen.

Maar as jou kroonjuweel (die Bulls) eers begin verdof en sy waarde verloor, is daar baie groot probleme. Wanneer die Southern Kings meer punte as jy op die puntelys het, is daar baie groot rede tot kommer.

Dit was ʼn bittergal Saterdag vir die Bulls toe hulle met 62-24 deur die Crusaders op Loftus gemesmeraais is. Tien drieë teen drie vertel die verhaal, maar veel erger nog, bitter min van die klein skare wat op Loftus was, het een van die Crusaders se agterspelers al voorheen in aksie gesien.

Geen All Black agterlangs in die opdrafspan nie, maar tog het hulle die basiese beginsels onder die knie. Hoekom kry hulle dit dan in Christchurch reg, ʼn stad wat ʼn paar jaar gelede byna in puin gelê is ná ʼn aardbewing?

ʼn Mens het simpatie met die Cheetahs, veral oor die onsekerheid oor hul Superrugbytoekoms. Maar die Bulls?

♦  Dit was ook nie net die Bulls wat kleigetrap het nie.

Die Stormers is Vrydagoggend met 41-22 deur die Hurricanes geklop en die Cheetahs het ʼn oorwinning weggegooi toe hulle met 45-41 deur die Highlanders verslaan is nadat daar drie drieë in die laaste vyf minute teen hulle gedruk is.

Die somtotaal? Net 83 punte vir en 148 punte teen die drie Nieu-Seelandse spanne.

♦  Die Lions het die Rebels darem met 47-10 geklop en die Sharks het die Force met 37-12 getroef. Dit was teen swak Australiese teenstand, maar die Lions en Sharks, asook die Stormers, is op pad na die uitspeelrondes. Al drie kwarteindstryde vind onderskeidelik op Ellispark, Kingspark en Nuweland plaas.

♦  In ander wedstryde het die Chiefs die Reds met 46-17 geklop, die Blues het die Waratahs met 40-33 verslaan en die Jaguares het die Sunwolves, wat al hoe beter in die reeks vaar, met 46-39 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

David ·

Het Superrugby SA rugby oor tyd verswak, of versterk…..? Dalk NZ kans gegee om oor tyd teenvoeters uit te werk vir ons kragrugby, en verder die reëls te laat herskryf om eerder hul speelstyl en sterkpunte te pas..?

Frans C ·

Die Bulls het deur die jare ‘n tiepe spel gespeel wat gegrond was soos Springbokrugby van ouds op ‘n dominante pak voorspelers en knap skrumskakels wat die span vorentoe geneem het met taktiese skopwerk.Dit het dan drie Superrugby titels tot die gevolg gehad.

Deur die jare heen het die spelpatroone verander en het die klem alhoemeer op basiese vaardighede begin val waar daar veral van voorspelers verwag is om nie net hul basiese
werk goed te doen nie,maar ook balvaardighede te beskik wat hul instaat stel om gemaklik met agterspelers te kombineer.

Die Bulls probeer die patroon navolg maar verval dan as dinge nie goed gaan terug op hul ou nou uitgediende speelwyse en verval dan in ‘n tiepe spel wat iets van elke patroon bevat
maar eintlik niks is nie.

Skrumwerk is swak en behalwe hier en daar is daar van ondersteuning van baldraende spelers min te sien en is daar meer spelers op die grond as op hul voete.Dit is dus ‘n nog vis nog vlees spelpatroon.

Die afrigtingspan val rond en probeer ‘n spelpatroon om sekere spelers te bou.Flop die spelers dan flop die span.Dit ernstig tyd om te besluit op ‘n spelpatroon waarby al die spelers
inkoop en daarby te hou wen of verloor.Die Sunwolwes is ‘n sprekende voorbeeld van dit en na sukkelbegin speel hul al hoe beter.

VERITAS ·

Daar was niks fout met die suksesvolle spelpatroon van die Bulle nie. Hulle het hulself aan die neus laat lei deur te glo dat die dae van voorspelerdominansie getel is. Stutte wat soos senters rondhardloop, kan nie skrums oorheers nie en dit is waar wedstryde gewen of verloor word. Keer terug na tipiese Bloubulrugby en die bekers sal weer Loftus toe kom.

Pietie ·

Finansies is ‘n probleem in SA. Die enigste manier hoe ons kompeterend gaan bly , is om slegs die room van die talent hier te hou deur hulle behoorlik te betaal en die enigste manier om dit te doen is om die aantal beroepsspelers te beperk. Die ouens wat dit nie maak nie moet maar amateur speel of hul heil oorsee gaan soek. Daar is te veel gemiddelde (wat vermoë aanbetref) beroepspelers in SA. Ek kan nie verstaan hoekom Australie so sukkel nie, hulle het mos die geld om topspelers van oral te koop en te behou.

Arie ·

Jammer Pietie maar dit is nie waar ons probleme begin het nie, ons het geld gehad toe die huidige fools aangestel is en dit is waar ons probleme begin het en ek praat nie van ons spelers nie!! Hierna sal ek nie verbaas wees as ons wel bankrot speel nie. Almal sukkel met die politiek saam maar ons is in `n gemors en dit is nie lands politiek nie.

Arie ·

Ek stem dat erosie nie oornag plaasvind nie maar om langer te wag gaan niks beter maak nie net erger! Ons sin het begin by Barend van Graan en die uiterse swak afrigters wat daarna aangestel is, hulle maak nou soos zuma – ontken skuld en lê lag, bedank asseblief en die wat nie wil erken dat hulle nie opgewasse is nie moet weggejaag word – NOU!!!! Al die ander spanne het gewese bok afrigters behalwe ons en dit is duidelik sigbaar. Ek smeek julle BEDANK NOU!!!!!!!!!!!!

Koos1 ·

Weet julle wat is erg. As jy en jou pelle voor die game stry hoe ver die Bulls gaan verloor. Stop asb die gemors. Geen een van die Bulls of hulle afrigting span behoort hierdie jaar weer naby ‘n wedsryd veld te kom nie. Doen die eerbare ding en bedank…… almal van julle! Ek skaam my vir julle en julle spel.

Willi ·

Dit kom ‘n lang pad. In die ou dae was dit altyd die geval met N-TVL rugby dat as jou kind nie op skool eerste span gespeel het, of die Craven week gehaal het nie, en hulle kom op Varsity was dit altyd die eerste vraag wat gevra word. Waar het jy gespeel? en dié kinders staan gewoonlik eenkant. Hulle is dan die uitverkoringe. Die ander staan op ‘n ander plek en hulle word dan geoormerk as derde of vierde span spelers om hulself te bewys in die toekoms, wat eintlik nooit gebeur nie, Onthou ook maar die pappies by skole met hulle borgskappe, status en bederf van afrigters sodat hul snot neusies tog net eerste span kan speel, al het hulle geen talent hoegenaamd gehad nie, want sien die geld en status praat mos mooi saam in rugby.
En na ‘n tyd verloor die wat nie kans kry nie belangstelling en wyk uit na ander plekke of speel net nie meer nie.
Dieselfde met Bulle rugby, selfs op klub vlak word dieselfde beginsels toegepas, en word net die gatkruipers en uitverkoringe gekies, want dis wie jy ken en hoeveel geld jy het, wat saak maak.
As jy dan uiteindelik vir N-TVL of seker ook maar die Bulle gekies word, is daar geen kans dat die gewone ou wat sy hart op klub vlak uitspeel, ooit die lig in die tonnel sal sien nie, hulle speel so lank dat hulle later maar vir die “golden oldies” speel.

Klaar ·

Enige mpy wat nie winsgewend is nie, sal deure toemaak of ontslae raak van hul werknemers(bestuur ingesluit). Ek het niks teen Van Graan en afrigtingkorps en spelers nie,maar die mpy(BBRU) is nie meer winsgewend en suksesvol nie. Maak die huis skoon en begin van voor af! ASB!

Boerseun ·

Van Graan moet eerste gaan, ek roep al 4 jaar dat hy moet gaan.

Manie ·

Ek wil ook sê ek dink Nollis moet liewer n ander werk gaan soek maar ek dink politiek en kwotas het rugby in n wurggreep en is besig om die spel dood te maak

Riaan ·

Willie – Ek stem heeltemal met j saam.
Die Useless bulls kon in elk geval nooit n game wen sonder n ref of die hulp van on van paste besluit nie.
Strafskop na strafskop was die manier hoe daar gewen was, jaar in en jaar uit.
Kyk maar van Naas se tyd af tot nou, nou skielik is daar geen ref of Blou invloed om te red voor of n half tyd van n game nie.

Piet ·

Willi ek deel jou sentiment oor die “voortrekkery” . Dit gebeur ongelukkig vanaf laerskool regdeur tot op die hoogste vlak . Voor politiek was n sport soos bv atletiek een van die waar daar nie teen jou gekies kon word nie – as jy die wenner was en jou tyd kwalifiseer is jy gekies. Ek is egter van mening dat politiek een van die grootste oorsake van die ineensinking van ons sport is . Die moeite werd afrigters en spelers het “geglip” en die wat oor is kyk net waar kan hy die geleentheid kry om tas te pak en weg te kom. So betaal ons die prys vir dit wat n afgod is in ons land – rugby. Dit het ons immers al jare terug ons nugtere denke ontneem , toe ons ten alle koste net uit isolasie wou kom.

Henry ·

Ag ou Piet, Willi en wie ookal
Om aan’t teem te gaan oor “voortrekkery” wat vir donkie jare by alle provinsies plaasvind, is eintlik koddig, om dit sagkens te stel. ‘n Beter voorbeeld van die “ge-voortrekkery” is stokou nuus en deel van die WP en SA rugby se geskiedenis. Oubaas Mark, Dok Craven en talle ander voorbeelde in die ander provinsies is uitstekende voorbeelde.
Dat daar ernstige probleme by die Bulle is, ly geen twyfel nie en sal hopelik een of ander tyd reg gestel word. Wanneer en hoe dit sal plaasvind, gaan regtig nie die “voortrekkery” temerasie insluit nie.
Terloops. Die sogenaamde ‘voortrekkery’ van die Bulle het darem 3 Super Bekers na Pretoria veroorsaak, ten spyte van skeidsregters en met PLAASLIKE sterre soos Matfield, Fourie Du Preez en talle ander plaaslik geteelde BULLE.
Rugby en sport hoe krom en skeef dit ookal mag wees, verleen gelukkig afleiding van die daaglikse pyne wat in hierdie droewe land ervaar word.

Frans C ·

Die mense wat sê dat daar niks verkeerd is met Bulls-rugbypatroon weet eintlik nie waarvan hul praat nie.Die mees effektiewe patroon is die van die NZ-spanne .Dit is wat alhoemeer spanne met groot sukses begin navolg.
As die Leeus speel is dit niks anders as nog ‘n NZ-span wat speel.Die jare wat die Bulls die Superreeks gewen het was hul voorlangs meer dominant en was daar ‘n duidelike insinking in die voorspelerspel van die NZ-spanne.
Noudat dit reggestel is raak hul alhoemeer dominant in die kompetisie want hulle spanne
bevat almal balvaardige sterk voorspelers en verskuif hul die kontakpunte vinnig oor die veld.

Dit was duidelik dat van die Suid Afrikaanse spanne nie by die tempo kon aanpas nie.
Ja die Stormers het die Chiefs geklop maar dit was slegs deur een stukkie briljante spel van
Leyds en Marais se opvolgwerk wat die wendrie bewekstellig het.Sonder dit was daar net ‘n strafskop nodig vir die Chiefs om te wen.
Die Stormers se voorspelers kon nie by die tempo van die spel byhou nie en het een na die ander voorspeler verloor omdat brute krag nie die antwoord is nie.Rugby is ‘n vytienman spel en kan nie om die vaardighede van enkele spelers gebou word nie. Die Lions is ‘n tipiese voorbeeld waar almal hul deel bydra bo en behalwe hul primere werk.

Pietman ·

Daar is nie iets soos ‘n “spelpatroon” nie. Daar is slegs ‘n regte manier van speel. bv skop as ‘n patroon sal nooit werk indien die skop nie ‘n goeie skop is nie, hardloop sal nooit werk indien die basiese beginsles nie reg gedoen word nie ens ens. Daar is 3 dinge wat saakmaak. 1.Moet vorentoe speel. 2. Moet besit behou, 3. moet met spoed speel. Goed kwotas en oorsese geld kortwiek ons rugby maar die heel grootste probleem is die afrigters, spelers en ondersteuners wat absoluut niks van die spel weet nie. Dis tog duidelik dat ons huidige probleem is dat die SA spanne nie vorentoe speel nie. waar is plat aangeewerk waar spelers met spoed die bal op die voordeellyn kry? dit gebeur nie. Mr slot ( stilstaande) kry die bal 5 meter agter die losgemaal. Teen daai tyd het die NS span se verdediging al opgeskuif.

Frans C ·

Pietman ek verskil van jou. .’ Patroon is maar net wat ‘n model wat gevolg word. Dus kan rugby
volgens ‘n sekere patroon gespeel word.Al die ALL Black spanne het ‘n patroon wat op dieselfde model geskoei is.

Daarom skakel hul spelers maklik by die nasionale span in.Een van hul basiese uitgangspunte is dan ook solank jy die bal volgens plan dra,dra jy vyf punte onder jou blad tot tyd en wyl jy of die bal wegskop of verloor.Balbesit al is dit persentasie gewys min is van kardinale belang.

Hul tweede uitgangspunt is ondersteuning en verskuiwing van die bal na spelers in beter
posisies en onnodige vermyding van onnodige kontak.Hul verwag dus basiese vaardighede
van al hul spelers wat hul van kleins af leer.

In 1960 was ek op Ellispark en sien ‘n losskakel wat die bal so hoog en ver skop dat die hele Springbokpak onder dit kon kom en die All Blacks effektief van dit afdryf.

Koos ·

Daar is net een manier om die realiteite tuis te bring by die Loftus Versfeld regime: relegeer, op grond van hul huidige prestasies, die Flou Bulle en laat hulle uit Superrugby om a.s. jaar buite die Superrugbyreeks eers herstel voordat hulle toegelaat word om terug te keer tot groot rugby. Die Southern Kings en selfs die Cheetahs het in die afgelope tyd volledig bewys dat hulle bokant die Flou Bulle in die reeks hoort.

Pietman ·

FransC. ‘n Patroon dui op iets voorspelbaars.HM se bokke het ‘n patroon gevolg, Onvoorspelbaarheid is ‘n bate in rugby. Dit gaan nie oor vermyding van kontak nie maar eerder oor speel in spasie in. Jy kom makliker oor die voordeellyn indien jy in spasie speel as bv om in spelers vas te hardloop. Die basiese beginsels in rugby is reg in NS. En nee, jy hoef nie noodwendig die bal te dra nie. Toe almal so gekla het oor die bokke so baie skop het statistiek gewys die AB’s het veel meer geskop. Dit gaan oor die regte besluite op die veld neem. ‘n goeie skop bly ‘n bate. Net so kan ‘n span wat met alle balle hardloop maar nie oor die voordeellyn kom nie, balbsit verloor, nie met spoed speel nie en nie in spasie speel nie swak wees. So dit gaan nie oor wat jy doen nie maar hoe.Die SA spanne speel almal dieselfde. Val nie die voordeellyn aan nie. Voorspelersontvang die bal 5 meter agter die loskrum, agterspelers trek nie opponente nie , al jou besluite ( spelskepping) moet op die voordeellyn wees . Ons behou ook nie besit nie omdat ons nie vorentoe speel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.