Daar is Kiwi’s wat glo ’n gekweste Bok is gevaarlik

Beauden Barrett en die All Blacks het laas in die Wêreldbeker-rugbytoernooi teen die Springbokke gespeel. Die All Blacks het die wedstryd gewen. Foto: Toshifumi Kitamura/AFP.

’n Mens lees gereeld in die Nieu-Seelandse media dat die Springbokke se twee agtereenvolgende twee nederlae teen die Wallabies nie eintlik saak maak nie. Konsensus is bereik dat die Suid-Afrikaners met hernieude krag teen die Kiwi’s sal speel.

Of só word daar altans gehoop.

Dit is immers Saterdag die 100ste toetswedstryd tussen hierdie twee lande – wat weens die wêreldwye Covid-19-pandemie in Townsville (van alle plekke) beslis sal word.

Beauden Barrett is een van die All Blacks-spelers wat daarna uitsien om teen die Springbokke kragte te meet.

“Dit is al ’n rukkie sedert ons laas teen die Springbokke gespeel het en dit sal almal in die groep se eerste wedstryd teen ’n wêreldkampioenspan wees,” het Barrett gesê.

Volgens die blitsige losskakel/heelagter is hy trots om deel van die ryke tradisie tussen die All Blacks en die Bokke te wees – dit het al vir talle hoogtepunte in sy lewe gesorg; hetsy as speler of rugbyliefhebber.

Ná die fiasko van die eerste twee wedstryde op hul Australiese avontuur, het die Springbokke hul eerste plek op die wêreldrugby-punteleer aan Nieu-Seeland afgestaan. Die Suid-Afrikaners is dus die verdedigende wêreldkampioen, maar tans nie die beste span ter wêreld nie.

“Ons weet dat die grootheid van die wedstryd die Bokke sal inspireer en hulle sal waarskynlik baie beter as in die afgelope paar weke speel. Dit beloof om ’n goeie uitdaging vir ons span te wees.”

John Plumtree, die Kiwi’s se hulpafrigter wat destyds aan die stuur van die Sharks was, verwag ook dat Siya Kolisi se span oorgehaal is om beter te speel.

John Plumtree. (Twitter@1NewsSportNZ)

Hy meen egter dat die Bokke nie aan hul spelpatroon sal verander nie; dit is nou al hopeloos te laat om dit te doen.

“Ek glo nie hul afrigterspan sal oorreageer nie. Hulle sal egter op daardie fasette van die spel konsentreer waarin hulle moet verbeter,” het Plumtree gesê.

“Persoonlik dink ek dat die taaiste voorspelerstryd op die spelers wag sedert ek by die All Blacks aangesluit het. Ons sal die wedstryd teen ’n hoë tempo moet speel en hulle nie toelaat om dinge stadiger te maak nie.”

En wat van die Bokke se teleurstellende vertoning in die laaste twee toetse? Net soos Barrett steur hy hom nie veel daaraan nie.

“Wanneer hierdie twee spanne teen mekaar speel, waai die spelpeilboek by die stadionvenster uit.”

’n Mens sal seker ná Saterdag weet of ’n gekweste Springbok werklik so gevaarlik is. Want as hy nie terugbaklei nie, kan die All Blacks ongetwyfeld vir verdere lyding sorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Hier in SA sit daar ten minste 6 spelers wat beter is as van die span in Australia. En ‘n ou agrigter.

piet ·

Wie? Ek kan net aan Marcell Coetzee dink en ek is nie oortuig dat hy beter is as die ouens in die groep nie. Dalk Goosen ook maar weereens nie oortuig nie. Maklik om te se die en daai maar die gehalte van ons plaaslike kompetisies is so vrot dat die ouens net in toetsomstandighede geweeg sal kan word. Noem die 6 wat jy aan dink asseblief.

Pieter9 ·

In Engels is daar ‘n gesegde, ‘street wise’; die All Blacks en Wallabies is rugby ‘street wise’, en dan, die Bokke kon nog NOOIT die All Black speltempo hanteer nie. Ons is kompeterend vir 50 minute dan verhoog hulle eenvoudig die tempo en die Bokke is verlore. Ek bly ‘n Bok ondersteuner, maar ons moet bly wees as die All Blacks nie 50 punte teen ons gaan aanteken nie – ons het nie die All Black ‘killer instinct ‘ nie – het dit nog nooit gehad nie. Dit is wat die geskiedenis die afgelope 15 jaar vir ons uitwys.
Ek hou duim vas vir ‘n wonderwerk.

Andrew ·

Dit is n rukkie wat hulle teen mekaar gespeel het. Daai dag in die wêreldbeker was die NZ’rs baas. En hulle is nou opgewonde om eerste keer teen die wêreld kampion te speel. Ek dink die NZ’s skryf SA en Kolisi bietjie “op” want hulle is oorgehaal vir wraak.

In elk geval solank daar kwotas in SA sport is sal ek hulle nie steun nie.

koos10 ·

John, die Bokke het hulle spel patroon vir die twee wedstryde teen die Aussies verander, so die tyd aspek pla hulle glad nie. Julle sal binne 10 minute weet of die Bokke wil rugby speel, of net ‘n oorsese vakansie tydens die inperking wou hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.