Daar is min dinge so lekker soos ʼn Leeustoer

Willie John McBride (Facebook Willie John Mcbride)

ʼn Britse en Ierse Leeustoer bly maar een van daai hoogtepunte wat rugbyondersteuners opgewonde maak.

Ons oumas en oupas het altyd vertel hoe die Bokheelagter Jack van der Schyff, sy doelskop skeef getrek het op die ou Ellispark om die eerste toets in 1955 aan die Leeus met 23-22 te besorg. Daardie foto van die verpletterde Van der Schyff wat kop onderstebo terugstap terwyl die bal in die rigting van Quinn-brood se gebou toe trek, is verewig.

Van der Schyff is juis in die Bokspan ingesluit nadat hy Wes-Transvaal se wenskepdoel in die eerste toerwedstryd oorgeklits het, maar ná die eerste toets het hy nooit weer vir die Bokke gespeel nie.

Ons weet van Mannetjies Roux se drie in 1962 teen die toerspan in Bloemfontein. Ons het dit eers heel later in teaters of in Springboksage op televisie gesien, maar dié beeld is ook verewig.

So ook Frik du Preez se drie teen 1968 se Leeus op Loftus Versfeld toe hy voor om die lynstaan gebars en die heelagter Tom Kiernan disnis uit sy pad gestamp het.

Dink maar aan Willie John McBride se toerspan wat in 1974 die Bokke met 3-0 (die laaste toets was gelykop) getroef het.

Hoe dit die land in sak en as gelaat het, hoe dit die oë van die Suid-Afrikaanse rugbypubliek (en hopelik ook die keurders) oopgemaak het. En hoe JPR Williams, Gareth Edwards en McBride huishoudelike name geword het.

Dink maar aan Martin Johnson se 1997-toerspan wat die Bokke met 2-1 in die reeks geklop het; hoe die Bokke meer drieë gedruk maar Neil Jenkins se skopskoen die Bokke gekelder het. En aan hoe die Bokke in 2009 teruggeslaan het om die reeks te beklink.

Maar ek dink die verhaal van 1906 se toerspan wat deur Australië en Nieu-Seeland getoer het, prikkel jou lagspiere die meeste.

Volgens ESPN Rugby het een van die span se spelers, die stut Percy Down (is sy van nie ironies nie!) oorboord in die Aucklandse hawe geval net voordat die stoomskip anker opgetrek het op pad Australië toe. Die Nieu-Seelandse koerante het berig dat twee All Blacks, Bolla Francis en George Gillet, wat die toerspan weggesien het, in die water gespring het om Down te red.

Die Britse koerante het berig dat ses van sy spanlede oorboord gespring het om hom uit die water te haal.

Nietemin, Down het harsingskudding opgedoen en kon nie in Australië speel nie.

Die Leeus (wat as die Anglo-Saksiese toerspan bekend gestaan het) was nog ʼn speler in Australië kort, want die senter Henry Vassail het die boot verpas aangesien hy nog saam met lede van die Nieu-Seelandse skoner geslag gekuier het.

Nog ʼn spanlid, Fred Jackson, is huis toe gestuur nadat dit op die lappe gekom het dat hy  onder ʼn skuilnaam rugbyliga vir Swinton gespeel het. Jackson het later na Nieu-Seeland teruggekeer en vir die Nieu-Seelandse rugbyligaspan gespeel. Sy seun Everard Jackson het tussen 1936 en 1938 vir die All Blacks gespeel.

Dis hoekom die Britse en Ierse Leeustoer wat nou in Nieu-Seeland plaasvind, soveel opslae gaan maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.