Daar is ʼn magdom Bokke sonder toetse

Dit gebeur deesdae al hoe minder dat daar Springbokke op toer is, maar nie in toetse speel nie, maar tog kan daar weer een of twee Springbokke wees wat dalk nie ʼn kans op die komende Europese toer sal kry nie.

As ek my sommetjies reg gedoen het, is daar reeds 97 spelers (van die 888 Springbokke) wat Springbokkleure gekry het, maar nie in toetse gespeel het nie.

Een van die opvallendstes is Theo Pienaar, die stut wat die Springbokke in 1921 op die toer na Nieu-Seeland en Australië aangevoer het, maar nie in die toetse gespeel het nie. Frank Mellish, Phil Mostert en Nic du Plessis is bo hom vir die drie toetse teen die All Blacks ingespan (daar was toe nog nie ʼn toets teen die Wallabies nie) en die 36-jarige agtsteman Boy Morkel het die span aangevoer.

Interessant is dat Pienaar op die lys van Springbokkapteins is sonder dat hy ooit in ʼn toets gespeel het. Manne soos Chiliboy Ralepelle, Gary Botha, Rudolf Straeuli, Boy Louw, Jan Pickard en ʼn hele rits ander was ook al kapteins in toerwedstryde, maar nie in toetse nie, en word uiteraard nie as Springbokkapteins gereken nie. Pienaar wel – en verkeerdelik so.

♦  Dit het die eerste keer op die Bok-toer van 1906 gebeur toe Arthur Burmeister, Japie le Roux, William Neill en Bert Reid in die Bok-toerspan was, maar nooit toetsrugby gespeel het nie.

Daar was ʼn hele paar ander spelers met wonderlike byname soos Apie van der Hoff, Skaap Forrest, Koffie Hofmeyr, Jakkals Keevy en Cowboy Sanders wat gevolg het.

Daar is ook baie hartseerverhale, soos dié van Faan Conradie, Basie van Wyk en Kerneels Cronje.

Conradie is in 1965 as ʼn plaasvervanger vir die beseerde losskakel Jannie Barnard na Skotland oorgestuur. Maar Barnard het van sy besering herstel en Conradie het nooit kans in ’n Boktrui gekry nie. Ná die toer het die destydse Suid-Afrikaanse Rugbyraad tog besluit om aan Conradie Springbokkleure toe te ken.

Van Wyk, wat tussen 1951 en 1955 in tien toetse vir die Bokke gespeel het, het sy been in 1956 in Australië gebreek nog voordat die eerste wedstryd gespeel is. Van Wyk het nie genoegsaam herstel om op toer te speel nie en dit was ook die einde van sy toetsloopbaan.

Cronje, wat ook ʼn internasionale atleet was, het in 1965 in Australië in die eerste wedstryd teen ʼn Wes-Australiese XV in Perth – die wedstryd is nie eens amptelik erken nie – sy dyspier beseer nadat hy twee drieë gedruk het. Hy is vir die eerste toets teen die Wallabies gekies, maar moes onttrek, en het die res van die toer vanweë sy geskeurde dyspier misgeloop.

En wat van Adri Badenhorst en Pieter Dixon, wat binne ʼn paar minute in 2001 Springbokke geword het? Die Bokke se laaste toerwedstryd was in Worcester teen ʼn gekombineerde Engelse XV wat in die laer ligas gespeel het. Die Bokafrigter, Harry Viljoen, wou nie met sy toetsspelers of plaasvervangers waag nie en het uit die bloute vir Badenhorst en Dixon, was saam met die SA o.23-span op toer was, opgekommandeer.

Hulle het Springbokkleure ontvang, hoewel hulle net vir ʼn paar uur saam met die Bokke op toer was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.