Daar is niks koninklik aan die Kings

As daar nie ʼn dramatiese ommekeer is nie, gaan daar nog baie trane gestort word oor die Southern Kings se deelname aan dié seisoen se Pro14-reeks.

Nadat die Italiaanse Zebré-span die Kings Saterdagaand met 43-17 in die Nelson Mandelabaai-stadion geklop het,  moet die gevaarligte nou baie helder vir die Suid-Afrikaanse rugbybase brand. Of was hulle maar hul hande in onskuld en wag op Rassie Erasmus wanneer hy aanstaande jaar die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van afrigting word om die krake te probeer toemessel?

Om ná vier rondes die enigste segelose span (insluitende twee tuiswedstryde) uit 14 te wees is nie goeie leesstof hier en oorsee nie. Vier wedstryde gespeel, al vier verloor. Gerugte van ʼn toeskouerboikot, 47 punte vir en 163 teen, ses drieë gedruk,  maar 23 afgestaan.

Kom ons tref ʼn vergelyking tussen die Kings en Cheetahs, wie se mat ook in die Superreeks onder hulle uitgeruk is en wat ʼn reddingsboei in Europa ontvang het.

Albei spanne het ʼn universiteit, en goeie voederskole soos Grey-kollege (Bloemfontein) en Grey High School (Port Elizabeth). Die Kings kan boonop put uit die nabye skole van die Grens soos Dale College, Queen’s College en Selborne College voordat die ander bonde toeslaan.

Maar waar die Vrystaters blitsvinnig koppe bymekaargesit het, goeie en bekwame afrigtingspanne vir hul Pro14- en Curriebekerspan aangewys het, spelers bekom het, ondernemende rugby bly speel en Vrydagaand in Bloemfontein juis vir ʼn voorste klub soos Leinster met 38-19 geskok het, kan ʼn mens maar net kop skud oor die Kings.

ʼn Mens voel eintlik jammer vir die afrigter, Deon Davids, en sy spelers, want hulle is uit hul diepte en vir die wolwe gegooi. Boonop is die Southern Kings se voederspan, die Oostelike Provinsie Kings, laaste in die Curriebekerreeks se Eersteliga.  Ja, laaste van al die spanne in Suid-Afrika en die Namibiese Welwitchias.

Vyf wedstryde gespeel, al vyf verloor. Net Saterdag het hulle weer skandes gemaak toe hulle met 71-39 deur die Griffons oorrompel is.

Wanneer die SA rugbybase Maandag in Londen saam met adjunkpres. Cyril Ramaphosa Wêreldrugby met ʼn waarborg van 160 miljoen pond (sowat R286 miljard) gaan probeer oortuig om die Wêreldbekertoernooi in 2023 in Suid-Afrika aan te bied, hoop ek dat die Kings se treurmare in hul agterkoppe sal wees.

Daar is baie werk om tuis te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lol ·

SARU se skuld. Kings Superreeks spelers het geen sekerheid gehad oor hul toekoms en moes noodgedwonge ander kontrakte aanvaar dus is daar geen diepte. Maar Pieter Kruger , het die Bulls en Bulle verskonings vir hulle vertonings die jaar? “Die wat in klas kaste bly?”

Herman Goosen ·

‘n Polities korrekte span waar politiek meer gespeel wors as rugby. Die eens trotse OP span wat deur baadjies vir boeties bestuurs poste finansieel vernietig is. Daar is geen plek vir OP rugby internasionaal nie en hulle onbevoegdheid is met talle kompetisies al bewys. Hulle is so sleg dat hulle nie eens plaaslik erens kom nie, maar hulle word nog steeds deur die regering in gunstige posisies geforseer wat hulle geensins verdien nie. Die Pumas is ‘n klein onderneming wat onder konstante beter bestuur en afrigting is, maar weens hulle ligging en polities minder gunstige etniese agtergrond kry hulle geensins die kanse wat die Kings constant opmors nie. Raak ontslae van hierdie verleentheid van ‘n span!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.