Daar is niks vriendeliks vir die Wallabies in die Baai nie

Die Nelson Mandelabaaistadion in die Baai, waar die Bokke nog nie verloor het nie. (Foto: nelsonmandelabaystadium.co.za)

Vergeet van die spook van Loftus en van die hoogte bo seevlak op Ellispark wanneer die longe in die tweede helfte begin brand. Die Springbokke se grootste bondgenoot tuis is ʼn toetswedstryd in die Baai.

Van die swakste Springbokspanne het daar welslae behaal met oorwinnings oor die All Blacks, Wallabies, Engeland, Ierland, Skotland, Argentinië, Italië en die Britse Leeus.

Eers op St. Georgepark, die beroemde krieketveld en tuiste van die Crusaders-rugbyklub, toe in die Boet Erasmus-stadion, wat nou vervalle op pad van die lughawe af na die strandfront lê en wag om gesloop te word (dis reeds deur vandale gestroop) en sedert 2011 in die Nelson Nelson Mandelabaaistadion, waar die Bokke in vier toetse onoorwonne is.

Die Bokke het wel met 14-elk teen Engeland gelykop gespeel, maar die All Blacks (18-5), Skotland (55-6) en Ierland (19-3) in die nuwe stadion geklop.

ʼn Mens maak maar staat op die annale om na toetswedstryde op St. Georgepark te verwys.

Die eerste rugbytoets tussen Suid-Afrika en Brittanje is op 30 Julie 1891 op St. Georgepark gespeel. Brittanje het met 4-0 gewen (die toerspan het net 1 punt in 20 wedstryde op toer afgestaan, teen Kaapstad in die eerste wedstryd nadat hulle ʼn paar weke lank op die skip op pad na Suid-Afrika was).

Dit het eers maar swaar in Port Elizabeth gegaan, want die eerste drie toetse op St. Georgepark is al drie deur Suid-Afrika verloor.

Die gety het eers in 1924 gedraai toe die Springbokke, wat die noemnaam die eerste keer op die toer van 1906/1907 deur die Britse Eilande gebruik het, met 3-3 teen die Britse Leeus gelykop  gespeel het.

Van toe af was dit klopdisselboom.

Van die ouer garde sal beslis die Boet Erasmus-stadion onthou. Daar waar Springbokysters soos Willa Delport, Amos du Plooy, Hannes Marais, Hambly Parker, Gawie Carelse, Eben Olivier, Danie Gerber, Hennie le Roux, Frans Erasmus, Garth Wright en André Vos baie diep spore getrap het.

Dit was nog altyd vir besoekende spanne ʼn stryd om daar te speel. Vooraf is hulle baie goed in die Vriendelike Stad ontvang, maar op ʼn Saterdagmiddag het hulle klokslag huis toe verlang.

Die veld het van wes na oos gelê (of was dit andersom?) en in die eerste helfte het jy teen die son gespeel. Boonop het die wind ook byna baie altyd gewaai ‒ en as jy nie daarmee vertroud was nie, was die slag reeds vroeg geslaan.

Saterdag is dit weer die Wallabies se beurt. Hulle het nog net vier toetswedstryde in die Baai gespeel en het al vier verloor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gatvol ·

Moet nie so seker wees nie. Daar mag dalk n verassing wees.

Bruno Samartin ·

Nee wat SA gaan maklik wen. Onthou na die wen teen All Blacks is Pieter Steph du Toit nou die beste nr 7 flank in die ganse heelal, die ander voorspelers ook van die beste en ou Willie “kan nie die bal vang nie” Le Roux weer die beste heelagter. In een wedstryd het SA gevorder tot een van beste spanne en van die spelers wat konstant vrotsig was het verander in van die beste spelers in hul posisies-merkwaardig. Dus, ek kan nie sien dat SA die een kan verloor nie

nico k ·

Vir Australië kan ons wen. Maar ek wil net vir Pieter sê ek het nie goeie ondervinding van die Boet Erasmus nie. Ek het een toets daar gekyk en die Bokke het ver verloor. (O ja, dit was in 1974.)

Frans C ·

Die Jongste Springbokspan is weer ‘n eksperiment in kombinasies.Is nie so seker dat die Bokke een gaan wen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.