Duane Vermeulen meen dat die Springbokke nog nie op alle suiers in Frankryk gevuur het nie.
Die sterk losvoorspeler dra vanaand die no. 7-trui teen Tonga in ʼn Groep B-wedstryd in Marseille.
“Ons wedstryd teen Ierland was een van die beste groepwedstryde van die Wêreldbeker-toernooi. Tog glo ek dat daar nog genoeg petrol in ons tenk oor is,” het Vermeulen gesê.
“Die span het beslis nog ʼn paar dinge waaraan daar gewerk moet word, maar ons moet dit nou regkry: Daar is nie meer tweede kanse nie. Hopelik kan ons met ʼn goeie vertoning teen Tonga vorendag kom.”
Volgens Mzwandile Stick dink die Suid-Afrikaners glad nie aan moontlike uitspeelwedstryde nie; hul volle aandag is op die kragmeting teen die eilandmanne.
“Ons moet hierdie wedstryd wen. Ons kan dit nie bekostig om op ander spanne staat te maak om ons uitspeelwedstryd-kanse ʼn hupstoot te gee nie. Daarom moet ons goed wen en ʼn bonuspunt jaag,” het die Bokke se assistent-afrigter gesê.
Die wedstryd tussen Suid-Afrika en Tonga is Sondag om 21:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.
Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Grant Williams (regtervleuel), Canan Moodie (buitesenter), André Esterhuizen (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Duane Vermeulen (flank), Siya Kolisi (flank en kaptein), Marvin Orie (slot), Eben Etzebeth (slot), Vincent Koch (stut), Deon Fourie (haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Marco van Staden, Steven Kitshoff, Trevor Nyakane, Franco Mostert, Kwagga Smith, Jaden Hendrikse, Jesse Kriel en Manie Libbok.
Tonga: Salesi Piutau (heelagter), Fine Inisi (regtervleuel), Malakai Fekitoa (buitesenter), Pita Ahki (binnesenter), Anzelo Tuitavuki (linkervleuel), William Havili (losskakel), Augustine Pulu (skrumskakel), Semisi Paea (agtsteman), Sione Talitui (flank), Tanginoa Halaifonua (flank), Sam Lousi (slot), Halaleva Fifita (slot), Ben Tameifuna (kaptein en stut), Paula Ngauamo (haker) en Siegfried Fisi’ihoi (stut). Plaasvervangers: Sam Moli, Tau Koloamatangi, Sosefo Apikotoa, Adam Coleman, Sione Vailanu, Sonatane Takulua, Patrick Pellegrini en Afusipa Taumoepeau.
