Daar is te veel kos op die tafel

Nuweland - toe rugby nog `n ervaring was

Nuweland – toe rugby-kyk nog spesiaal was

Dit was glad nie so lank gelede toe daar net op Saterdae rugby gespeel en op Dinsdag- en Donderdagaande geoefen is nie.

Dit was toe groot woorde soos transformasie, kondisionering, rehabilitasie, gimnasium en dieet net in woordeboeke bestaan het, toe Tukkies, Weermag en Polisie 30 of meer spanne gehad het en toe Loftus nog volgepak was wanneer klubrugby gespeel is; toe Wits en Ikeys nog Engelse klubs was en Dok Craven bepaal het dat ons net die eerste 10 minute van ʼn toets op die SAUK  mag dophou en dan eers later die hele toets kon volg om só te keer dat toeskouergetalle elders nie kwyn nie.

Die jaarlikse klubtoernooi in Durban was een van die groot hoogtepunte, waar oop klubs soos Despatch hul kragte kon meet met Tuks, Maties en Pretoria Polisie. Om die een of ander rede het die Transvaalse klubs nie die oog getref nie.  Ja, Goudstad en RAU het so nou en dan gekook, maar meestal  was hulle maar lou.

Dit was in die dae van byname, soos Draadkar de Lange, Spyker Jacobs, Draad Oliphant, Mielie van Zyl, Chain Botha, Ghriespomp van der Merwe, Bus Bezuidenhout en Ouboet en Kleinboet Fourie, toe stadions nog na iemand vernoem is, toe truie borgloos was.

Maar die damwal moes seker meegee, dit kon nie die tsoenami keer nie.

As dinge so aangaan, sal dit nie ʼn verrassing wees as daar binnekort ook op Dinsdae en Woensdae rugby gespeel word nie.

Dis Varsitybekerrugby op Maandae, Superrugby op Donderdae, Vrydae en Saterdae en later vanjaar die nuwe SuperSport provinsiale reeks wat op Sondae afgehandel sal word.

Dis nie net een wedstryd op ʼn dag nie, sommer drie, vier, vyf en meer.

Wat nog van Wêreldrugby se sewesreeks, die Sesnasies, ander toetse, Engelse Premierliga, Pro10- en Franse Top14-reekse en die Europese Bekerreekse?

En o ja, binnekort ook die lande se voorste skole, die Junior Wêreldbeker, die WB-toernooi vir vroue.

Maar wie het gister se wedstryd tussen die Force en Reds dopgehou? Wie weet wat die telling tussen die Kings en Jaguares was?

Al is jy ook al getroud met rugby, dis te veel van ʼn goeie ding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nico K ·

Daar is seker goeie dinge ook. Voorheen moes mense nie by my op ‘n Saterdag kom kuier het nie, (behalwe as hulle in rugby belang gestel het.) En my vrou kon vergeet om my iewers te kry. Want daar was net 1 wedstryd in ‘n week op die TV en daai wedstryd het ek nie gemis nie! Nou is daar so baie ek gee nie eers om as ek Saterdag middag moet gaan skoolkonsert kyk nie, al speel die Bulle en die Cheetahs. Daar is 5 ander wedstryde wat ek kan kyk.

Bielie ·

Rugby is afgewater. Ek sou opgesit het om rugby te kyk so decade of 2 terug, maar nou, nee wat.

Dan moet ons ook onthou dat klub rugby hier in Blou Bul kontrei, deur die juniors (0/20 en 0/21 spanne) op Donderdae gespeel word en die 1stes, 2des en 3des op Saterdae.

Laasgenoemde word so gespeel sodat die oop klubs spelers van die junior spelers kan gebruik om waar daar leemtes is, dit op Saterdae met die seuns kan volmaak.

Rugby is besig om ‘n stadige dood te sterf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.