Daar sal nóú opgetree moet word

SA Rugby logo cropDit begin mos al hoe meer lyk asof aanstaande week se beraad oor die toekoms van Suid-Afrikaanse rugby op ʼn groot lawaai en weinig wol afstuur en nie die bloeding sal keer nie.

Al hoe meer verdoemende stemme het die afgelope dag of twee opgegaan waaroor daar al jare lank gekla word: dat die probleme veel dieper lê as by die vertonings van die Springbokspan.

Die Bokke se nederlae vanjaar teen die Iere, Argentinië, Australië en Nieu-Seeland  was die laaste strooi en dit het regstreeks daartoe aanlediging gegee dat ʼn noodberaad gehou moet word.

Maar dit sal nie net help om die krake toe te messel nie; of om die Bok-afrigter, Allister Coetzee, se afrigtingspan te vergroot nie; of om oor ʼn eenvormige speelpatroon te kibbel nie.

Die rugbybase sal moet pa staan oor die erosie wat op alle vlakke voorkom.

Drie van die gewese Springbok-afrigters, Nick Mallett, Heyneke Meyer en André Markgraaff sal nie by die beraad wees nie. Meyer is glo nie uitgenooi nie en Markgraaff en Mallett sal dit ook nie bywoon nie, want volgens hulle lê die probleem veel dieper as om oor afrigting te redekawel.

Dit was ook ʼn openbaring en uiters braaf van die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen toe hy Maandag  sy mond oor die welstand van Suid-Afrikaanse rugby op timeslive uitgespreek het. Vermeulen het sy kop op die blok geplaas, en Dinsdag het hy getwiet dat hy vir sy medespelers opstaan, “en dan ook vir elke Suid-Afrikaner wat die sport so lief het”.

Die oud-Bok-losskakel Joel Stransky het aan Reuters gesê dat die probleme van grondvlak af aangespreek moet word, en dat die 14 unies nie Springbokbelange op die hart dra nie maar net op die Curriebeker- en Superrugby fokus.

Hy het gesê dat daar nog jarelange se pyn voorlê.

Eugene Eloff, wat nou in Amerika afrig, het ook sy mond op rugby365.com uitgespoel. Volgens Eloff sal iemand met ruggraat en integriteit moet opstaan en leiding gee, want dit is dieselfde beamptes wat SA rugby tot in die sloot gedryf het.

“Dit is angswekkend om te dink dat hulle salarisse verdien, grotes daarby,” het Eloff gesê.

Verdoemend, om die minste te sê.

Maar sal die rugbybase hulle daaraan steur?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

LOSKOP ·

Daar sal absoluut niks van hierdie beraad kom nie. A C sal aanbly as afrigter , die hele S A R U
bestuur sal in hul poste aanbly . Al wie hierdeer geraak gaan word , is ons , die arme rugby mal
ondersteuners. Ons wie gaan kyk na die swak rugby wat deur die Bergbokke gespeel word.
(Kan hulle nie meer Springbokke noem nie)
Die oplossing vir ons swak spel is om n erkende afrigter en hulp afrigters aan te stel. Kry konsultante in om hulle te help en laat die huidige S A R U raad ontbind en stel oud Springbokke en sake manne aan om die spel te laat herleef en weer van ons n vreesaanjaende rugby land te maak

Jan ·

Enige eerbare “Man” speler sal uittree om plek te maak vir “meriete spelers “. Julle spelers weet presies wie julle is. Enige bestuur/afrigter wat self respek het sal uittree. Dit geld ook vir regerings vlak.

Jan ·

Die tekortkoming van selfrespek onder rugby bestuur en spelers kan SA rugby red NIE indaba nie

snuffels ·

Stel vir Mikhaya Ntini aan, hy sal beter vaar as AC…het dalk meer kennis ook!

Jan ·

Wonder wanneer gaan Coetzee soos n man om verskoning aanbied aan die goeie spelers wie hy Saterdag beledig het?

albert ·

Hoe gouer daar net plaaslike spelers gekies word wat op vorm is en n afrigter wat kan afrig hoe gouer sal ons rugby weer reg kom. Argentinie wat baie minder speler korps as ons het kies nie hul spelers wat oorsee speel nie en kyk wat se rugby speel hulle met n baie jong span. Hul gaan n groot krag wees met die volgende wereld beker. Die beraad gaan niks baar nie want daar sal nie van bestuur verander nie, en daar is geen een wat guts het om standpunt te neem nie.

Ploumie ·

Kwotas uit. Meriete enigste maatstaf. Kyk na ons oor gekwotade sokkerspan. Van Caf wenners in 95 na span wat nie eers kwalifiseer nou. Regering stel nie belang in wen nie solank die rasse samestelling reg is.

Dirk Viljlen ·

Boetie boetie dwing goeie spelers op skoolvlak uit en platteland rugby bestaan nie meer en afrigting bestaan nie meer, dis die boustene van rugby

WD ·

Kry vir ou Snorre terug, hy het mos laasjaar baie te sê gehad – dalk kan Cosatu en die ANC youth “leeg” ook raad gee :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.