Daar is seker tot laataand gesamba

Brasilië se SA skrumskakel Beukes Cremer (Foto: CRB)

Brasilië se SA skrumskakel Beukes Cremer (Foto: CRB)

Jy kon my met `n veertjie omtik toe ek lees dat Brasilië se rugbyspan Saterdagaand in Sao Paulo met Amerika in die reeks om die Amerikasrugbybeker afgereken het.

Was dit nie dalk die sewesspan wat later vanjaar aan die Olimpiese Spele deelneem nie? Dit was seker nie die Amerikaanse Eagles se beste span wat binne `n paar weke soveel vordering onder John Mitchell se afrigting getoon het nie?

Ek was verkeerd, dit wás Brasilië se 15-manspan, dit was die Amerikaners se beste span wat skandes gemaak het, dit was Brasilië se eerste sege ooit oor die VSA: met 23-22.

Ek kan my indink wat Mitchell by Maandag se oefening aan sy spelers gesê het: Woorde soos vervlaks en deksels is gewis nie gebruik nie en sekerlik kon hulle maar die rugbyskoene weggebêre het en net hardloopskoene gedra het.

Ná die orwinning het Brasilië van 42ste tot 38ste posisie op die wêereldranglys opgeskuif: bo Sri Lanka, Tunisië, Litaue en Madagaskar.

Amerika het tot 17de teruggesak, een posisie agter Roemenië.

Daar is net 16 128 geregistreerde spelers in Brasilië wat vir 301 klubs rugby in `n sokkermal land speel. Die nasionale span word Los Tupis genoem – met verwysing na die Tupis, die grootste inheemse volk in Brasilië.

Confederação_Brasileira_de_Rugby_—_CBRuDie span het eers in 2012 dié noemnaam gekry, nadat daar per e-pos daaroor gestem was. Daar was drie voorstelle: Tupis, Sucuris (Anakondas) en Araras (Ara-papagaaie). Daar is op Tupis besluit nadat 47% van die mense daarvoor gestem het.  Hulle speel in tradisionele geel truie en smaltblou broeke, net soos die nasionale sokkerspan.

Brasilië se twee grootste nederlae was albei kere teen Argentinië: in 1993 toe hulle met 114-3 geklop is en weer in 2012, toe die Poemas met 111-0 gewen het. In 13 toetse het die Poemas 1 054 punte aangeteken en Brasilië net 47.

Die Franse het darem al twee keer deur Brasilië getoer, in 1974 en weer in 1985. In 1974 het die Franse met 99-7 gewen. Teen 1985 het die Franse sege tot 41-6 gekrimp.

Brasilië het tot dusver in 121 toese 50 daarvan gewen, hoofsaaklik teen lande soos Colombia (8), Peru (9), Paraguay (13), Venezuela (8), Trinidad & Tobago (4), Costa Rica (1) en Chili (1). Hulle is segeloos in 13 wedstryde teen Argentinië en kon ook nog nie vir Kenia, Hongkong, Kanada en Duitsland klop nie.

En toe Saterdagaand se skokoorwinning oor die Amerikaanse Eagles.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.