Daar slaan die SA rugbybase (wéér) die bal aan

(Foto: Wêreldrugby)

Een van die grootste leemtes wat op die onlangse Springboktoer ontbloot is, was die onvermoë van die agterste driehoek om hoë skoppe te vang, en as dit kon, met rente terug te stuur.

Ierland het die Springbokke in die eerste toets op toer met hoë skoppe gepeper en die vrugte gepluk: 38-3.

Wallis het dit ook gedoen en wat het gebeur? Almal weet dat die Bokke met 24-22 getroef is.
Courtnall Skosan is op die ashoop gegooi en Andries Coetzee en Dillyn Leyds (en ʼn paar voorspelers wat altyd in die pad was) het nie veel beter gevaar om die teenstanders se lugaanvalle te fnuik nie.

“Kry ʼn afrigter wat die spelers kan leer hoe om hoë balle te vang, kry ʼn afrigter wat die spelers kan leer om met albei voete te skop,” is nou die refrein om die braaivleisvuur.

Kom ons draai die horlosie 16 jaar terug: Ná 2001 toe die destydse Bokafrigter Harry Viljoen die dienste van Michael Byrne, die Australiese skop-en-vang-ghoeroe, bekom het.

Maar soos in baie ander gevalle, wou die rugbybase nie aan ʼn Bokafrigter se voorstel byt nie en in plaas daarvan om Byrne op ʼn heeltydse grondslag aan te stel om vir drie jaar met die Bokke, Superrugbyspanne en ‘n rits ander spanne te werk, is hy die deur gewys.

Byrne was ligjare voor sy tyd en hy het sy kennis toe by die All Blacks gaan inploeg. Nodeloos om te sê, die All Blacks het twee Wêreldbekers met hom as ʼn lid van die afrigtingspan gewen. Hy was in die agtergrond, maar op die oefenveld op die voorgrond.

Dink maar gerus terug aan Sitiveni Simivatu en Joe Rokocoko, wie se leemtes destyds deur die Bokke ontbloot is. Byrne is getaak om hul vaardighede op te knap, om hulle te leer vang en skop en die res is gekiedenis.

Dink net hoe het hy Ma’a Nonu se skopvaardighede en hantering verbeter het, hoe hy heelagters soos Corey Jane, Israel Dagg en Ben Smith met groot welslae vleuel toe te skuif het om die teenstanders se aanvalle te ontlont.

Kyk net hoe het Aaron Smith en TJ Perenara verbeter (lees Ross Cronjé en Rudy Paige in ons geval).

Toe Byrne vroeër vanjaar ná 11 seisoene by die All Blacks weg is, het die Wallabies hom as vaardigheids-, skop- en vangafrigter gegryp.

Kon die Bokke die Wallabies vanjaar klop? Nee.

Was hul vaardighede beter as die van die Bokke? Ja.

Ek onthou nog goed hoe Byrne in sy kort tydjie by die Bokke in Plettenbergbaai die spelers se skopvaardighede probeer verbeter het.

Die spelers moes een-een teenoor mekaar stelling inneem en dan die bal na mekaar toe skop. Eers met die regtervoet en dan teruggestuur met die linkervoet. Elke keer moes hulle ʼn meter verder uitmekaar stelling inneem. Byrne het 30, 40 meter in gedagte gehad, maar net een Bok (oorlede Francois Swart) kon op 15 meter akkuraat met die linker- en regtervoet skop.

Dis hoekom Viljoen Byrne wou aanstel, dis hoekom die SA rugbybase die bal aangeslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jj ·

Die grootste leemte in die afgelope toer was die springbok(kies) se voorry en agterlyn!

Veritas ·

Jj, die grootste leemte in die Springbokspan, was die spelers en afrigters. Sonder hulle sou ons nie verloor het nie.

Stef ·

Moenie vergeet van ontwrigting deur beserings nie. Elke keer as ‘n stut of slot seergekry het is ons agterlyn ontwrig.

alwyn burger ·

As jy ñ verdedigings , skop, fiksheids,voorspeler , agterspeler of wat se afrigter ookal nodig het, dan is jy nog nie ñ Springbok nie!!. Ons spelers is dikwels opgepompte stoorosse en botterbulle wat nie geskik is vir ñ veeleisende ,harde kontaksport nie. Hulle is reusagtig maar broos en word te maklik beseer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.