Daar vang Italië toe vir Engeland aan die slaap

italie-logo-grootWas dit toelaatbaar? Ja, dit was heeltemal binne die reëls.

Maar was dit in die gees van sportmanskap? Besluit maar self.

Italië se afrigtingspan, wat Brendan Venter as verdedigingskonsultant insluit, het Engeland in die eerste helfte van Sondag se Sesnasies-toets op Twickenham heeltemal uitoorlê.

Engeland het steeds met 36-15 gewen nadat hulle rustyd nog met 5-10 agter was.

Die Ierse afrigter, Conor O’Shea, het die slim stukkie taktiek Saterdag met die Franse skeidsregter Jerome Poite uitgeklaar. Poite het hom die jawoord gegee, op voorwaarde dat dit steeds binne die gees van die spel moet wees en dat nie een Italiaanse speler binne ʼn meter van die Engelse skrumskakel, Danny Care, moes kom nie.

Wat het gebeur?

Die Italianers het, nadat een van die Engelse spelers platgetrek is, geen kontak gemaak nie. Volgens reël 16.1 (b) was ʼn losskrum nog nie gevorm nie, want minstens en speler moet in fisieke kontak met ʼn teenstander bo-oor die bal wees. Die bal moet op die grond wees en indien die bal om enige rede nie op die grond is nie, het die losskrum nie gevorm nie. Dus was daar nog nie ʼn onkantlyn nie.

Dit het ʼn hele paar keer gebeur dat  Italië se agsteman en kaptein, Sergio Parisse, en die skrumskakel, Edoardo Cori, langs Care baljaar het en verhinder het dat hy die bal kon uitgee, veral nadat die Italianers se agterspelers ook vinnig opgeskiet het.

Die Engelse slot Joe Launchbury het erg gekla, só ook die kaptein, Dylan Hartley en Care.

Die flank James Haskell het aan Poite gevra wat hulle moet doen om die Italianers by die losskrums te betrek, waarop Poite geantwoord het: “Ek weet nie, ek is die skeidsregter, nie die afrigter nie.”

ʼn Juweeltjie.

Die Engelse afrigter, Eddie Jones (hy, van alle mense!) was briesend en volgens die BBC het hy dit met die onderarm-aflewering van Trevor Chappell vergelyk toe Australië in 1981 die Nieu-Seelanders daarvan weerhou het om ʼn ses van die laaste bal af te slaan om ʼn eendagwedstryd gelykop te laat eindig. (Die bal is onderarm gerol, toe nog wettig. Vandag moet dit een keer wip voor dit die kolwer bereik.)

Maar, ek het nuus vir Jones. Tensy die reëls verander, is daar niks daarmee verkeerd nie, sportmanskap of te not.

Die Chiefs het dit verlede jaar in die Super-reeks gedoen, die Wallaby-flank David Pocock het langs die Ierse losskakel in ʼn toets gaan staan,  Wasps het dit in die Engelse Premierliga gedoen.

Sal ander spanne dit nou ook gereeld doen? Ja.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nico K ·

Dit is die probleem as reëls te tegnies raak. Ek weet reels moet presies beskryf word, maar die meeste rugby reels, sou dit in ‘n hof beland het, kan ure oor geredeneer word. en die arme skeidsregter moet binne sekondes ‘n besluit neem.

SP ·

Is die stelling in die berig korrek dat die krieketbal een keer moet wip voor dit die kolwer bereik?

Gerhard ·

Dit was so in die verlede maar ek dink nie dit geld meer nie, ek dink daardie reel het verval

Francois ·

Reël bepaal dat die bal nie meer as 2 keer mag wip nie.

Wim van der Berg ·

Dit moet een keer wip, m.a.w. dit mag nie gerol word soos in 1981 se geval nie. Dit mag ook nie meer as twee keer wip nie.

Nico O ·

Is daar nog sportman gees in sport? As ‘n losgemaal, skeef ingooi by skrum en lynstaan wettig is kan omtrent enige iets in rugby wettig wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.