Daar wag baie huiswerk op die Springbokke

Owen Farrell – kolskieter. (Foto: Twitter)

Die Springbokspan en ʼn nat veld is nie goeie maats nie.

Dit het Engeland Saterdag in die derde toets op Nuweland weer gewys toe die Rose die Bokke met 25-10 geklop het, nadat hulle rustyd met 6-3 voor was.

ʼn Ligpunt was dat die reeks reeds voor die toets met 2-0 (nou 2-1) beklink was, want daar wag heelwat kopkrap op die Springbokafrigter, Rassie Erasmus.

Net soos die verloortoets teen Wallis op 2 Junie in Washington, toe die veld ook nat was, kon die Bokke weer nie by die toestand aanpas nie.

Dalk was Erasmus se spankeuse verkeerd, want die agterste driehoek van Warrick Gelant, S’Bu Nkosi en Aphiwe Dyantyi, en die skakelpaar van Elton Jantjies en Faf de Klerk was swak, om nie sterker taal te gebruik nie.

Dié keer was die skoen aan die ander voet, want waar Engeland perfek by die toestande aangepas het, was sy dissipline ook puik, terwyl die Bokke 14 strafskoppe afgestaan het. Daarvan het Owen Farrell met ses uit ses pale toe geslaag.

Die Engelse het in dié toestande gedy. Dit het hulle soos ʼn handskoen gepas. Ook het hul voorspelers dié keer die oorhand gehad. Ja, die Bokke kon op die nat veld nie die regterskouer in die skrums inkry nie. Hulle is by die afbreekpunte ore aangesit, waar hulle nege keer besit afgestaan het, terwyl Engeland net vier keer besit verloor het.

Hoe gouer Malcolm Marx terugkeer, des te beter, want al sê wie ook wat, as jy nie ʼn baljagter het nie, gaan jy jou rieme die een of ander tyd styfloop.

Wat is uit die nederlaag wys geword?

Dat die Bokke sal moet leer om ook by nat toestande aan te pas, en nie net op die hoogte bo seevlak staat te maak om buitelandse spanne te troef nie.

Dink net daaraan as dit nat in Nieu-Seeland gaan wees wanneer die Bokke in die Rugbykampioenskap teen die All Blacks speel.

Daar is ook groter duidelikheid oor die toekoms van ʼn paar spelers, want hulle kom op toetsvlak nie die mas op nie.

Ja, dalk pas ʼn nat veld nie by hul sterkpunte nie, maar daar is te veel oppervlakkige leemtes.

Nietemin, om Engeland met 2-1 in die reeks te troef, bly ʼn prestasie, al was dit suur by die soet.

Puntemakers –

Engeland 25(6) — Drie: Jonny May. Doelskop: Owen Farrell. Strafdoele: Owen Farrell (6).

Suid-Afrika 10 (3) — Drie: Jesse Kriel. Doelskop: Elton Jantjies. Strafdoel: Elton Jantjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

T mey ·

Verkeerd gekies v die omstandighede. Ten minste weet ons nou wie is die beste. Cheers Elton.

Wesley ·

Hy is nogsteeds tweede beste. Hy het swak gespeel mar wie het nou nie? Nie veel beter met Pollard gespeel nie. Hele pak was oortrek met swak dissipliene. Ons kan glad nie in die nat speel nie. Moes afbreekpunt beter beheer. Baie baie huiswerk le voor….

Lerato ·

Die Engelse gaan laag in die losskrums in en behou die bal.
Ons probeer soos kameelperde in die los gaan en verloor telkens die bal.

PJC ·

Met sulke spankeuses kan ek nie sien dat die Bokke veel gaan vermag nie.

LHS ·

Haai snaaks hoe baie mense voor die reeks voorspel het SA gaan 2-1 wen. Eers moet Erasmus SE BEELD nog meer gepoets word sodat die publiek se vertroue nog meer kan styg in hom, om sodoende sy taak en opdragte vanaf sy polities georiënteerde werkgewers ten volle te kan laat slaag. Dan in ruil sal die ENGELSE afrigter se eer weer herstel word met n goeie wen aan die einde, siedaar almal is gelukkig en tevrede. Jammer maar ek voel iets drasties verkeerd aan.

alwyn burger ·

Soos dinge lyk is nie altyd soos dit is nie. (Ou Duitse oorlogsaksioma). Dit lyk na ñ n nederlaag. Dit was eintlik maar net ñ eksperiment. Ek dink nie Rassie het belanggestel in die telling nie. Die reeks was in elk geval klaar beslis.

Rupert Ashford ·

Hoekom kan jy nie die spelers wat nie die mas opkom nie se name noem nie? Sal Rassie hulle almal kan/mag vervang ??

volla ·

Rassie moet die eerbare ding doen en homself vervang. 2 uit 4 is swak.

Jean ·

Ja en dit gaan erger word..As jy nie eens jou tuis wedstryde oortuigend kan wen nie wat nog van weg wedstryde en teen beter spanne…hy Rassie voer die orders uit van bo om die nommers te laat klop ongelukkig gaan dit met n duur prys kom as jy nie jou bestes wil of kan speel nie ne..sorry maar ek verlekker myself daarin elke keer hul verloor oor die sinnelose en diskriminerende agendas.

JR ·

Stransky se “wet conditions”, Faf se “box kicks” en Jantjies se geploeter…Baie teleurstellend na vorige 2 toetse

Willem ·

En volgens verlede week se berigte in die media het Rassie alle bekommernisse oor transformasie besweer en toe klap die koerante hande.

Willem ·

Die Springbokke en ‘n nat veld is sinoniem. Die grootste deel van die rugbyseisoen word in die suide in die winter gespeel, so waarom kan hulle nie in hul eie klimaat aanpas nie??? Seker maar omdat, as daar in die winter in die suide gespeel word, die noorde se spelers gekies word.

volla ·

Dit gebeur nou as jy jou spogperde soos De Allende vervang met karperde soos AE.

volla ·

Onthou nou Rassie kom uit ‘n Vrystaat rugby-opset. 2 uit 4 mag heel aanvaarbaar wees vir hom

Niklaas ·

Ons kan nie altyd net droë velde verwag nie. Bokke sal seker op n manier moet oefen om modder toestande gewoond te raak

volla ·

Dis werklik jammer dat ons nie die diepte in die kwaliteit van spelers het nie. Onttrek ‘n paar manne en die hele storie val plat. Ons het dit nou verskeie kere al gesien. En kyk maar ‘n bietjie wanneer ‘n A-span gekies word, sukkel hulle ook.

Anti Elton ·

Hoeveel keer nog gaan afrigters vir Elton jantjes laat glo hys n wereldklas loskakel? Hy is nie,punt, en dis al hoeveel keer bewys. Nou wil hulle vir Damian Willemse vir die wolwe gooi wat ook nou nie eintlik in die onder 20 wereldbeker beindruk het nie. Gee iemand soos Robert du Preez n kans,hyt n dodelike voet aan hom en speel tot dusver baie goeie rugby vir die sharks. In Handre Pollard kan hulle nie verkeerd gaan nie maar hy kort n adjunk. Wat vleuels en senters aan betref, ek hoop Rassie het die naweek vir Ruan Combrinck dopgehou wat vinnig weer besig is om wereldklas te word, wat van Rohan van Rensburg van die leeus,groot,vinnig en bang vir niks. En dan die een vraag wat talle All black komentators asook spelers al verskeie kere gese het…….waar is Kwagga Smith? Daar is nie huidiglik n “fetcher” in die bok span nie. As die all blacks respek en selfs vrees het vir iemand soos Kwagga hoekom sien ons afrigter dit dan nie raak nie. Ek gee nie om wat die kleur van die speler is nie,kies asb die ou wat verdien om daar te wees,so sal die trots van die Springbok weer na vore kom.

Wesley ·

Jou naam se alles Anti. Robert is nie die antwoord nie… Toets vir Elton in kondisies wat hy by Lions kry en wat Handre gehad het in JHB en Bloem – met n voorpak wat domineer. Dan kan ons appels met appels vergelyk. Ons was 10 – 8 voor met Elton op die veld teen NZ laas jaar, wanneer ons pak gedomineer het. Toe kom Handre op. En toe verloor ons. Die naweek ook… 10 -15 agter met n pak wat agteruit gaan. Pollard kom toe op, verloor 10 – 25. Gaan ons dit nou blaam op Handre? Nee. Maar sal jy Robert of Willemse op die vinnige intreeslag teen NZ kan inspan onder sulke druk? Ek twyfel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.