Daar wag nie meer slapelose nagte op Rassie nie

Die statistieke wys dit dalk nie, maar daar ís heelwat vordering op die Springbokke se jaareindtoer gemaak.

Die laaste hoofstuk sal egter eers geskryf kan word wanneer die gordyn Saterdagaand skuins voor 21:00 in Cardiff ná die Springbokke se kragmeting met Wallis toegetrek word.

As die Bokke seëvier, sal dit hul beste vertoningslys op toer sedert 2013 wees toe hulle twee uit drie wedstryde gewen het. (Daar was in 2015, die Wêreldbeker-jaar, geen jaareindtoere nie en in 2014 is daar ook twee van die vier deur die Springbokke gewen en twee verloor. In 2016 het die Bokke drie uit drie verloor.)

As hulle Saterdag verloor, sal hulle dieselfde rekord hê as Allister Coetzee se span van 2017, wat ook twee van hul vier jaareindkragmetings gewen en twee verloor het. Maar wat tel, is dat die Bokke nie soos verlede jaar met 38-3 deur Ierland geklop en toe ook vroeër in die jaar met 57-0 deur die All Blacks afgeransel is nie.

Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, het Maandag op ʼn mediakonferensie in die Walliese hoofstad gesê dat die Bokke se vertoningslys vanjaar nie die beste was nie, maar dat die ywer en ingesteldheid van die spelers daar is.

Die huidige wenpersentasie van 53,84% is nog niks om oor huis toe te skryf nie. As die Bokke Wallis klop, sal hulle die jaar op ʼn effens meer aanvaarbare 57,14% afsluit. As die Bokke verloor, sal die seisoen op 50% eindig.

Erasmus-hulle het tot dusver twee van hul drie toetswedstryde op toer gewen, 67 punte aangeteken en vyf drieë gedruk. Hulle het 57 punte afgestaan en vier drieë laat deurglip.

♦ Die doel van die toer was om die regte kombinasies te vind vir aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Is daar daarin geslaag?

Erasmus het agt spelers wat saam getoer het (Gio Aplon, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Louis Schroeder, Schalk Brits, Trevor Nyakane, Sikhumbuzo Notshe en JD Schickerling) nog nie speelkans gegee nie. Hulle sal na alle waarskynlikheid ook nie teen Wallis uitdraf nie, maar dít gebeur op elke hedendaagse toer waar daar net toetswedstryde gespeel word.

 

Erasmus weet nou dat Willie le Roux se heelagterposisie verskans is, dat Aphiwe Dyantyi en Sbu Nkosi sy beste vleuels is, dat Jesse Kriel en Damian de Allende in die middelveld sal saamspan, Handré Pollard die voorkeur-losskakel is en dat Ivan van Zyl en Embrose Papier vir Faf de Klerk op skrumskakel kan instaan.

 

De Klerk, hoewel hy beskikbaar is, sal nie gekies word teen Wallis nie omdat Erasmus vir Van Zyl en Papier nog ʼn kans wil gee.

Die beste pak (afgesien van die beseerde Eben Etzebeth) het teen Skotland gespeel en sal heel waarskynlik ook teen Wallis ingespan word.

Etzebeth sal in RG Snyman se plek speel as hy fiks verklaar word.

Cheslin Kolbe, Elton Jantjies, Thomas du Toit, Vincent Koch, Bongi Mbonambi en Francois Louw is by uitstek sy afronders (impakspelers) en kan ook teen Wallis ingespan word.

Wen of verloor, dit is die beste huidige Springbokspan wat gekies kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Boerseun ·

Ivan van Zyl is seker een van die swakte skrumskakels in SA. Hy is hopeloos te stadig agter die los skrum en maak selfs vinnige aanvallende balle stadig. Daar bly dikwels daarom slegs 1 opsie vir hom oor en dit is om balbesit weg te skop. Hy is die groot rede hoekom ons teen die Engelse vasgeval het.

Koos ·

Ross nr 1 en Ivan nr 2 in useless/ stadig – geen visie of vermoe om te breek om skrum nie

wolla ·

Ek weet nie of dit beter is as verlede jaar nie. Almal staar hul blind teen die een verskriklike loesing teen die AB’s verlede jaar MAAR die Bokke het verlede jaar al hul Junie toetse gewen en Argentinie weg geklop. Ierland sal hierdie Bok-span ook ‘n loesing gee in Ierland.

B-man ·

Snaaks hoe Pollard vir Die ellende op binnesenter vervang week na week, dit spreek vir my boekdele oor of De Allende regtig daar hoort!

Terloops – 50 % Was goed genoeg vir my op universiteit…

Swartwolf ·

Pollard is ‘n briljante speler. ‘n “footballer” soos Markotter en Craven hulle genoem het. Was junior bok kaptein en indien nie vir kwota kaptein nie kon hy maklik bok kaptein wees. Ellende is nog ‘n kwota speler wat soos die kaptein gesub word op 60 min want hulle maak dit nie as dit tough raak nie. Hoe gouer die twee permanent gesub word hoe beter sal die bok span speel. Pollard as kaptein, ‘n flank wat kan kompeteer by afbreekpunte saam met Marx, en ‘n binnesenter met spoed en balverspreidingsvermoe. Ander span……..

Josua Keys ·

Yap Yap Yap, dis al afgesaagde stories wat ons hier hoor, mense kan my kruisig soveel hulle wil. Die beste Super Rugby span in SA en die tweede beste in die suidelike halfront vir die afgelope drie jaar drie spelers in die Bokspan om SA te verteenwoordig en almal soek verskonings waarom die bokke so sukkel. Ek kan julle waarborg as 75% van die bokspan tans uit meestal Lions spelers bestaan en dalk so drie of vier versterkings van die ander bonde het die bokke nie een wedstryd die jaar verloor nie en die All Blacks sou kop onderstebo geloop het, Rassie het ‘n guldige geleentheid gehad om al sy toetse te wen en die vier nasie reeks ook te beklink maar nee die keurders weet mos van beter en so maak hulle Bok rugby goedkoop. Ja ek is ‘n Lion ondersteuner en sou presies dieselfde gesê het as die ander spanne dieselfde resultate opgelewer het. Dit het nog altyd in die verlede so gewerk dat die twee sterkste Currie beker spanne die meeste bokke verteenwoordig het maar in die nuwe SA word die swakste spanne se manne gebruik WHAT A JOKE!!!!!!!!! Net met die Leeus en Sharks die jaar gekombineer sonder oorsee se spelers kon Rassie ‘n Top bok span aanmekaar gesit het maar die probleem is dat daar teveel mense agter toe deure sit en “chat” om hul belange te beskerm asom ‘n ordentlike bok span in die veld te stoot .

Frans C ·

Die kern van die Leeusspan speel oorsee vir hul ou afrigter of ander klubs.

Swartwolf ·

Pollard is ‘n briljante speler. ‘n “footballer” soos Markotter en Craven hulle genoem het. Was junior bok kaptein en indien nie vir kwota kaptein nie kon hy maklik bok kaptein wees. Ellende is nog ‘n kwota speler wat soos die kaptein gesub word op 60 min want hulle maak dit nie as dit tough raak nie. Hoe gouer die twee permanent gesub word hoe beter sal die bok span speel. Pollard as kaptein, ‘n flank wat kan kompeteer by afbreekpunte saam met Marx, en ‘n binnesenter met spoed en balverspreidingsvermoe. Ander span……..

wolla ·

Persoonlik hou ek van ‘n vlugvoetige en ratse losskakel wat vinnig van die merk is. Pollard is so groot en lomp.

wolla ·

Kaptein Kolisi span die seile en hou die wit outjies op hul tone. Net jammer van ons useless afrigter met sy stampkar en up-and-under spelpatroon.

Smirre ·

@wolla: maar waarvan jy persoonlik hou is gelukkig nie waarvan die afrigter hou nie. Dwergery werk nie in toetsrugby nie. Ook nie Currie beker nie daar vou prooovincee teen veel groter en sterker sharks.

Henk Stander ·

“Nie die beste jaar vir die bokke nie!”

Wen die ABs in NZ en verloor naelskraap in SA in een jaar? Hammel boere, dis ń krismis as ek ooit een gesien het. Tassie my is ń yster!

LHS ·

Ek sal enige dag, enige tyd die Leeu spelers in die bokspan vat, plus die wat oorsee gaan speel het a.g.v. die Erasmus wp bulle sindroom, plus n paar van die ander Leeu spelers, Ackerman en Soois hulle laat afrig en dan enige tyd op enige veld hierdie bokspan, sonder hulle Leeu spelers, aanvat en totaal en al vernietig. Man vir man was die Leeu spelers in elke super wedstryd die afgelope 3 jaar beter as hulle SA teenstanders. Niemand is so stupid om te dink hierdie is ons beste spelers nie, miskien van hulle maar beslis ook nie as Erasmus hulle aan bande le met belaglike spelpatrone nie.

Frans C ·

Van die Leeusvoorry bly net Marx oor. Andries Ferreira lyk my is beseer en Mostert is op Clouchester toe, Kriel is reeds daar.Soos ‘n mens met de Klerk se geval sien is oorseese
spanne nie gretig om hul duur ingevoerde spelers vry te stel nie.

Die punt is die Leeus gaan sukkel om die spelers wat hul verloor het te vervang en sal weer span moet bou.

Johan ·

Dyantyi is vinnig en selfs meeste van sy opsies/keuses is goed. Uitvoering dalk nie altyd “spot on” nie, maar so is meeste ander spelers se uitvoering van hul keuses ook maar gemiddeld. Wat my groot kommer is oor Dyantyi is sy vangwerk onder die hoe bal. Kyk na sy tegniek en dit is verkeerd. Hy lyk net ongemaklik. Rassie sal daar iets moet doen, of spanne gaan dit uitbuit in WB.

Smirre ·

@wolla: maar waarvan jy persoonlik hou is gelukkig nie waarvan die afrigter hou nie. Dwergery werk nie in toetsrugby nie. Ook nie Currie beker nie daar vou prooovincee teen veel groter en sterker sharks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.