Daar wag nie meer slapelose nagte op Rassie nie

Die statistieke wys dit dalk nie, maar daar ís heelwat vordering op die Springbokke se jaareindtoer gemaak.

Die laaste hoofstuk sal egter eers geskryf kan word wanneer die gordyn Saterdagaand skuins voor 21:00 in Cardiff ná die Springbokke se kragmeting met Wallis toegetrek word.

As die Bokke seëvier, sal dit hul beste vertoningslys op toer sedert 2013 wees toe hulle twee uit drie wedstryde gewen het. (Daar was in 2015, die Wêreldbeker-jaar, geen jaareindtoere nie en in 2014 is daar ook twee van die vier deur die Springbokke gewen en twee verloor. In 2016 het die Bokke drie uit drie verloor.)

As hulle Saterdag verloor, sal hulle dieselfde rekord hê as Allister Coetzee se span van 2017, wat ook twee van hul vier jaareindkragmetings gewen en twee verloor het. Maar wat tel, is dat die Bokke nie soos verlede jaar met 38-3 deur Ierland geklop en toe ook vroeër in die jaar met 57-0 deur die All Blacks afgeransel is nie.

Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, het Maandag op ʼn mediakonferensie in die Walliese hoofstad gesê dat die Bokke se vertoningslys vanjaar nie die beste was nie, maar dat die ywer en ingesteldheid van die spelers daar is.

Die huidige wenpersentasie van 53,84% is nog niks om oor huis toe te skryf nie. As die Bokke Wallis klop, sal hulle die jaar op ʼn effens meer aanvaarbare 57,14% afsluit. As die Bokke verloor, sal die seisoen op 50% eindig.

Erasmus-hulle het tot dusver twee van hul drie toetswedstryde op toer gewen, 67 punte aangeteken en vyf drieë gedruk. Hulle het 57 punte afgestaan en vier drieë laat deurglip.

♦ Die doel van die toer was om die regte kombinasies te vind vir aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Is daar daarin geslaag?

Erasmus het agt spelers wat saam getoer het (Gio Aplon, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Louis Schroeder, Schalk Brits, Trevor Nyakane, Sikhumbuzo Notshe en JD Schickerling) nog nie speelkans gegee nie. Hulle sal na alle waarskynlikheid ook nie teen Wallis uitdraf nie, maar dít gebeur op elke hedendaagse toer waar daar net toetswedstryde gespeel word.

 

Erasmus weet nou dat Willie le Roux se heelagterposisie verskans is, dat Aphiwe Dyantyi en Sbu Nkosi sy beste vleuels is, dat Jesse Kriel en Damian de Allende in die middelveld sal saamspan, Handré Pollard die voorkeur-losskakel is en dat Ivan van Zyl en Embrose Papier vir Faf de Klerk op skrumskakel kan instaan.

 

De Klerk, hoewel hy beskikbaar is, sal nie gekies word teen Wallis nie omdat Erasmus vir Van Zyl en Papier nog ʼn kans wil gee.

Die beste pak (afgesien van die beseerde Eben Etzebeth) het teen Skotland gespeel en sal heel waarskynlik ook teen Wallis ingespan word.

Etzebeth sal in RG Snyman se plek speel as hy fiks verklaar word.

Cheslin Kolbe, Elton Jantjies, Thomas du Toit, Vincent Koch, Bongi Mbonambi en Francois Louw is by uitstek sy afronders (impakspelers) en kan ook teen Wallis ingespan word.

Wen of verloor, dit is die beste huidige Springbokspan wat gekies kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boerseun

Ivan van Zyl is seker een van die swakte skrumskakels in SA. Hy is hopeloos te stadig agter die los skrum en maak selfs vinnige aanvallende balle stadig. Daar bly dikwels daarom slegs 1 opsie vir hom oor en dit is om balbesit weg te skop. Hy is die groot rede hoekom ons teen die Engelse vasgeval het.

wolla

Ek weet nie of dit beter is as verlede jaar nie. Almal staar hul blind teen die een verskriklike loesing teen die AB’s verlede jaar MAAR die Bokke het verlede jaar al hul Junie toetse gewen en Argentinie weg geklop. Ierland sal hierdie Bok-span ook ‘n loesing gee in Ierland.

B-man

Snaaks hoe Pollard vir Die ellende op binnesenter vervang week na week, dit spreek vir my boekdele oor of De Allende regtig daar hoort!

Terloops – 50 % Was goed genoeg vir my op universiteit…

Josua Keys

Yap Yap Yap, dis al afgesaagde stories wat ons hier hoor, mense kan my kruisig soveel hulle wil. Die beste Super Rugby span in SA en die tweede beste in die suidelike halfront vir die afgelope drie jaar drie spelers in die Bokspan om SA te verteenwoordig en almal soek verskonings waarom die bokke so sukkel. Ek kan julle waarborg as 75% van die bokspan tans uit meestal Lions spelers bestaan en dalk so drie of vier versterkings van die ander bonde het die bokke nie een wedstryd die jaar verloor nie en die All Blacks sou kop onderstebo geloop… Lees meer »

Swartwolf

Pollard is ‘n briljante speler. ‘n “footballer” soos Markotter en Craven hulle genoem het. Was junior bok kaptein en indien nie vir kwota kaptein nie kon hy maklik bok kaptein wees. Ellende is nog ‘n kwota speler wat soos die kaptein gesub word op 60 min want hulle maak dit nie as dit tough raak nie. Hoe gouer die twee permanent gesub word hoe beter sal die bok span speel. Pollard as kaptein, ‘n flank wat kan kompeteer by afbreekpunte saam met Marx, en ‘n binnesenter met spoed en balverspreidingsvermoe. Ander span……..