Daar wag nóg pyn op die Wallabies

In die ou dae voordat hulle Carisbrook in Dunedin gesloop het, het hulle die stadion die Huis van Pyn genoem, want dit is waar die All Blacks  byna onoorwinlik was.

Die stadion was oud, afgeleef, grys en koud. Daar was altyd wind, veral wanneer die  Suidpoolwinde oor Dunedin geblaas het. Dit het donker begin raak voordat die wedstryd voltooi is, dit was behoorlik nag!

Die grasoppervlak het soms veel te wens oorgelaat en in ʼn modderbad verander, veral wanneer dit vir dae aaneen gereën het. Dit was een van die All Blacks se grootste bondgenote en hulle het net vyf van 36 toetse daar verloor.

Maar sedert Carisbrook in 2011 plek vir die nuwe Forsyth Barr-stadion met die toeskuifdak gemaak het, het dinge vir besoekende spanne nog nie beter verloop nie.

Die windlose stadion met ʼn perfekte speeloppervlak pas die All Blacks soos ʼn handskoen.

Dit bly die Huis van Pyn vir besoekende spanne.

Die Bokke kon nog nie daar wen nie, ook nie Engeland, Wallis, Australië en Fidji nie.

Dus sal baie min kenners die Wallabies ʼn kans gee wanneer hulle Saterdag in die tweede Rugbykampioenskap- en Bledisloetoets teen die All Blacks speel.

Hoe kan jy sake binne ʼn week regstel wanneer jy in die eerste toets in Sydney met 34-54 oorrompel is? Boonop het die telling die Wallabies gevlei, want hulle was ná 50 minute met 6-54 agter.

Hoe kan jy sake omkeer wanneer jou beste slot, Adam Coleman, aan die vooraand weens ʼn besering onttrek is? Sy plaasvervanger, Rob Simmons, is die kluts kwyt, hy kon nie plek kry in die Wallabies se span vir die toetse in Junie nie. Hy kon nog nie sy Superrugbykontrak by die Reds hernieu nie.

“Om eerlik te wees, ek glo nie iemand gee ons ʼn kans nie,” het die Wallabies se afrigter, Michael Cheika, Vrydagoggend gesê.

Australiese rugby is ʼn warboel, in ʼn diep moeras. Nie een van sy Superrugbyspanne kon een van hul 26 wedstryde teen hul Nieu-Seelandse eweknieë wen nie.

“Dit hang van ons af om dit om te keer, om ons eie hoofstukke te skryf.”

Ja, daar het u dit, dis nie ons wat so sê nie, maar Cheika.

Die spanne –

Nieu-Seeland
15 Damian McKenzie, 14 Ben Smith, 13 Ryan Crotty, 12 Sonny Bill Williams, 11 Rieko Ioane, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read (kaptein), 7 Sam Cane, 6 Liam Squire, 5 Sam Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Nepo Laulala, 2 Dane Coles, 1 Joe Moody. Bank: 16 Codie Taylor, 17 Kane Hames, 18 Ofa Tu’ungafasi, 19 Scott Barrett, 20 Ardie Savea, 21 TJ Perenara, 22 Lima Sopoaga, 23 Anton Lienert-Brown.

Australië
15 Israel Folau, 14 Dane Haylett-Petty, 13 Tevita Kuridrani, 12 Kurtley Beale, 11 Henry Speight, 10 Bernard Foley, 9 Will Genia, 8 Sean McMahon, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Ned Hanigan, 5 Rory Arnold, 4 Rob Simmons, 3 Allan Alaalatoa, 2 Stephen Moore, 1 Scott Sio. Bank: 16 Tatafu Polota-Nau, 17 Tom Robertson, 18 Sekope Kepu, 19 Izack Rodda, 20 Lopeti Timani, 21 Nick Phipps, 22 Reece Hodge, 23 Curtis Rona.

Skeidsregter: Nigel Owens (Wallis).
Assistent-skeidsregters: Wayne Barnes (Engeland), Andrew Brace (Ierland).
Televisieskeidsregter: Rowan Kitt (Engeland).
Verwagte weer: Dit maak nie saak nie, want die dak is toe.
Afskop: 09:35

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.