Daar word al langer as 100 jaar oor skeidsregters gekla

Dis so oud soos die berge, om ʼn skeidsregter te blameer as dinge die dag nie reg verloop nie.

Dis ook nooit die wenspan wat iets daaroor te sê het nie, dis altyd die verloorspan wat hul monde daaroor uitspoel.

Kom ons kyk wat verlede Saterdag gebeur het. Die Highlanders is met 17-0 deur die Crusaders geklop en raai wat? Hulle het gebrom oor die Aussie-skeidsregter Angus Gardiner.

Die Sharks se afrigter, Robert du Preez, was briesend oor Marius van der Westhuizen ná hul nederlaag teen die Lions, hoewel hy net ʼn stekie daarna op die mediakonferensie, wat slegs 90 sekondes geduur het, kon inkry omdat hy beboet sou word as hy daaroor gepraat het.

Daar gaan byna nie ʼn wedstryd verby waar daar nie klagtes is nie. Ja, soms is die spanne reg – maar is dit die skeidsregter wat die bal aanslaan; skop hy die bal mis, verbrou hy die têkkels?

Daar word nou in Wellington in Nieu-Seeland gebrom oor die aanstelling van Jaco Peyper vir Saterdag se Superhalfeindstryd op Ellispark teen die Lions.

Wie wou hulle hê?  Romain Poite of Jérôme Garcès van Frankryk, Wayne Barnes van Engeland of een van die Aussies?

ʼn Mens kan nie help om daaroor te lag nie. Jare gelede is toerspanne nog voor die keuse gestel om neutrale skeidsregters in toetse te gebruik, maar hulle het altyd plaaslike blasers soos Gert Bezuidenhout, Piet Robbertse en Max Baise gebruik en aanvanklik nie gekla nie – tot ná die laaste toets.

Selfs die Britse Leeus, wat onoorwonne in 1974 op hul toer na Suid-Afrika was, het ná die vierde toets gekla.

Die eerste Nieu-Seelandse toerspan, wat in 1905 deur Brittanje en Ierland getoer het en as die “Oorspronklikes” bekend gestaan het, het toe reeds dieselfde probleme  teëgekom.

Die All Blacks het die Skotte in die eerste toets met 12-7 geklop en Ierland en Engeland met 15-0 verslaan.

Volgens die skrywer Paul Donnely in sy boek Firsts, lasts and only het die Nieu-Seelandse spanbestuurder, George Dixon, verskeie name van skeidsregters voorgelê vir die toets teen Wallis. Aikôna, het die Walliesers gesê, en die keuse het op die Skot John Dallas geval.

Die man was power en kon nie byhou nie. Daar is ook  oor sy onwelvoeglike kleredrag vir ʼn skeidsregter gekla (het hy dalk ʼn Skotse rokkie gedra?). Hy het die All Blacks in byna elke skrum gestraf (klink dit bekend?), maar steeds het hulle met 3-0 gewen.

Dis was terloops die eerste toets waarin albei spanne nommers op hul rûe gehad het, maar dit het ook nie gehelp nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jack ·

Dit is ook mos ‘n ou ding van die blou bulle. Altyd die skeidsregter se skuld.

Jack Russl ·

Ek sal graag die berig wil lees waar NZ kla oor Jaco Peyper.

Die enigste berig wat ek gesien het was waar hulle sê dat dit in ‘n mate onregverdig is op die skeidsregter aangesien sy optrede onder ‘n vergrootglas bekyk gaan word. Dit plaas onnodige druk op hom.

Arie ·

Ek dink dis tyd dat skeidsregters ook bietjie verantwoordelikheid aanvaar, ons almal weet hulle maak foute party meer as ander maar hulle kom altyd skotvry. Ek ek weet hulle bevoordeel party spanne, het eenkeer gehoor hoe spog een daaroor

Barend ·

Skeidsregters word oor die kole gehaal na swak vertonings. By omtrent elke wedstryd is daar iemand wat die skeidsregter evalueer en dan terugvoering gee. Die skeidsregter moet ook homself evalueer en dit deurgee aan sy afrigter.

Lol ·

Korrek. Andre Watson en Tappe Henning het die voorbeeld gestel en nooit verantwoordelikheid aanvaar namens skeidsregterverenigings na power besluite op die veld. Spelers en afrigters word in die publiek beboet en geskors maar skeidsregters kry promosies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.