Daar’s ʼn kinkel in hierdie keurder-kabel

Peter Jooste, die sameroeps van die SA keurders (Foto: youtube.com)

Peter Jooste, die sameroeper van die SA keurders (Foto: youtube.com)

Dit was sommer baie jare gelede, toe die Nasionale Party nog aan bewind was en die SAUK nog rugby uitgesaai het, want M-Net (SuperSport) was nog in sy babadoeke.

Op Maandagaande het die destydse Topsport (die SAUK se sportafdeling waar sport-ankers net soos skoolseuns maroen baadjies moes dra) was daar ʼn baie gewilde, maar omstrede program: Rugbyforum, aangebied deur Zandberg Jansen.

Jansen, wat doof was, het die program altyd begin met “Goeienaand,” en afgesluit met “Nag, ou grote, “ verwysend na sy gunsteling-speler, Frans “Domkrag” Erasmus, die Springbokstut van die Oostelike Provinsie.

Zandberg  het geen doekies omgedraai nie, spelers en beamptes gekritiseer en só baie vriende, en ook baie vyande, gemaak. Jy het of gekraai oor Jansen se omstrede stellings of bitter warm onder die kraag geraak.

In een stadium het die Bokke sewe keurders gehad en Jansen het altyd na hulle as die sewe dwergies verwys.  Prof. Daan Swiegers was die sameroeper en het moes die wysheid van Salomo gehad het om al ses van sy mede-lede gelukkig te hou. Voor die 1994-toer na Nieu-Seeland het hulle ure lank gekibbel: die een wou meer spelers van Noord-Transvaal in die span gehad het, die ander het vir sy Natal-spelers geskerm en die man van die Kaap het vir sy Streeptruie baklei.

Op die ou einde is die span sonder ʼn erkende skopper Nieu-Seeland toe, wat Joel Stransky en Henry Honiball het in Jan Tuisbly se karretjie gery. Die Bokke het al drie toetse in Nieu-Seeland verloor en is ook deur Otago getroef.

Die rugbybaas, dr. Louis Luyt, wat die toetse bygewoon het, was briesend en het ná die toer die paneel  en afrigter Ian McIntosh gepos. Hy het Kitch Christie as sy nuwe afrigter aangestel en hy kon sy eie span kies … en het só 14 agtereenvolgende toetse, insluitende die Wêreldbeker in 1995,  wen.

Dit bring my by Vrydag se besluit van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, om net een keurder, Peter Jooste, saam met die nuwe afrigter, Allister Coetzee, as keurderswyses aan te stel. Ek is heeltemal ten gunste daarvan, wat op die ou end moet Coetzee tog die span afrig met die spelers wat sy denke ondersteun en sy wedstrydplan uitvoer.

Daar is egter ʼn kinkel in die kabel, want Jooste en Coetzee sal weekliks deur die ses Superrugby-afrigters, Johan Ackermann (Lions), Gary Gold (Sharks), Nollis Marais (Bulls), Robbie Fleck (Stormers), Franco Smith (Cheetahs)  en Deon Davids (Southern Kings), asook Rassie Erasmus, Saru se rugbyhoof, bygestaan word en ingelig word oor die spelers se spelpeil.

Kyk, ek het baie hoë agting vir dié manne, maar gaan dit nie maar, net soos in die ou dae, op provinsialisme in ʼn ander baadjie uitloop nie?  As voorbeeld,  Fleck sal vanselfsprekend die deugde van ʼn  Cheslin Kolbe as heelagter besing;  nee, sal Marais antwoord, Warrick Gelant is net so vaardig, aikona, sal Ackers sê, wat van Andries Coetzee en Ruan Combrinck – en moenie vergeet van Willie le Roux nie, sal Gold byvoeg.

Dis presies wat voor die toer in 1994 gebeur het. Elkeen wou sy eie speler in die span het en op die ou end is Stransky en Honiball tuis gelos, met Lance Sherrell wat die jawoord as losskakel bo hulle gekry het.

Daar sal dus ʼn fyn balans gehandhaaf moet word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.