Daar’s nie plek vir gawe ouens

Hugh Rees Edwards (Foto: Zimbio)

Hugh Reece-Edwards (Foto: Zimbio)

Jy moet hare op jou tande hê om `n rugbyafrigter te wees.

In Suid-Afrika moet jy 54 miljoen “kenners” tevrede stel. Daar is maar min versagtende omstandighede, jou span moet altyd wen, meer drieë as die ander span druk en nie drieë afstaan nie. Jy word gemeet aan jou prestasie.

Jy moet talentvol, vriendelik en hulpvaardig wees. Jy moet pa en ma staan vir die spelers. Jy moet kan verduidelik hoekom `n speler `n bal aanslaan, die bal regstreeks uitskop, `n têkkel mis of `n  verkeerde besluit neem. Hoekom hy nie kan skrum nie of die bal skeef in `n lynstaan ingooi. Jy rig hulle mos af, jy moet alles weet.

Jy moet die spelers, van verskillende agtergronde en kulture kan beheer en regeer. Julle moet hulle nukke verstaan, hulle in rolmodelle smee. Jy moet die media, ondersteuners en die bestuur gelukkig hou en boonop die regte geluide vir die politici maak.

Jy moet spanne kies wat almal tevrede stel (dis `n onbegonne taak) en jy weet die dag wanneer jy jou handtekening onderaan `n kontrak sit, die bepalings sal nie nagekom word nie.

Jy weet, dis nie as nie, maar wanneer jy jou laaste tjekkie (van miljoene) sal ontvang.

Noem hulle maar op: Jake White, Peter de Villiers Nick Mallett, André Markgraaff, Carel du Plessis,  Rudolf Straeuli, John Mitchell, Frans Ludeke, John Plumtree, Stuart Lancaster en as jy alles glo wat in die koerante staan, binnekort ook Heyneke Meyer.

Dit laat my dink aan Hugh Reece-Edwards, `n gewese Springbok-heelagter, een van die legendes van die destydse Natalse en Sharks-rugbyspanne wat ook as afrigter  diep spore getrap het – veral  in Durban op skole-, klub, provinsiale en Supervlak.  Hy het 165 keer vir Natal en die Sharks tussen 1982 en 1995  gespeel en 1 114 punte aangeteken.

Hy het ook ‘n draai in Rustenburg gemaak, waar hy die Impala-klub in 2013 tot nasionale klubkampioene onder baie moeilike omstandighede gebrei het – te midde van die mynstaking  wat die platinummyne verlam het.

Reece-Edwards rig nou in Japan af; saam met Allister Coetzee (wat glo binnekort die leisels by Meyer neem),  Jimmy Stonehouse en `n rits ander Suid-Afrikaners

As ek my feite reg het, is Reece-Edwards drie keer as afrigter by die Sharks gepos – die eerste keer in 2000, `n hele paar seisoene later toe hy weer die Superspan gehelp het (hy was eintlik as Curriebeker-afrigter aangestel, maar voordat hy kon oorneem, is hy gepos). Die laaste keer was toe John Smit ná die Plumtree-debakel Reece-Edwards en Grant Bashford, wat as Super-afrigters in Plumtree se plek waargeneem het, nie heraangestel het nie.

Kortliks: Reece-Edwards was die Kwazulu-Natallers se assistent-afrigter onder Ian McIntosh tussen 1996 en 1999. Hy sou aan die einde van 1999 se Superrugby-seisoen by Ian Mac oorgeneem het en hoofafrigter van die Sharks in die Curriebekerreeks geword het.

McIntosh het egter besluit om aan te bly, soos hy self in sy outobiografie gesê het, om sy pensioen in die Curriebekerreeks aan te vul. Reece-Edwards het teruggestaan … tot in 2000 se Super-reeks. Dit het sy einde beteken, want hy kon weens sy gebrek aan ervaring nie aan die diep kant die mas opkom nie.

In 1974 het die oud-Boksenter wyle John Gainsford `n boek ná die Britse Leeus-toer geskryf. Die titel? “Nice guys come second”.

Lojaliteit? Nog nooit gesien wanneer daar oor `n afrigter se toekoms besluit word nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bok-Bok ·

Miskien arme Heyneke Meyer se probleem – too much hugging and crying. Ek voel vir die arme man, maar ek dink sy geluk lê elders soos by tango afrigting miskien – passie, fancy footwork, ‘n goeie skoot gel innie hare en oorweldigende hartseer na verlore kanse.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.