Dalk het afrigter Fleck iets uit Stormers se oefenlopie geleer

In die ou dae is daar by die klubs op Donderdagaande ʼn oefenwedstryd tussen die eerste en tweede spanne gehou. Dit is waaraan die Stormers se 52-15-sege oor die Sunwolves Saterdagaand op Nuweland herinner het.

Die ‘tweede’ span, die Sunwolves, het hard probeer; dit was baie maklik vir die Stormers, en daar is seker op ʼn plek of twee geskaaf en foute uitgewys waaraan hulle afrigter Robbie Fleck kan werk. En in die geheel was die wedstryd dus die moeite werd as voorlaaste proeflopie voor die kwarteind oor twee weke op Nuweland.

Hoeveel ʼn mens egter aanstaande jaar van hierdie manne uit die Ooste se rugby sal kan verteer, weet ek nie. Onthou, aanstaande jaar is die teenstander beter en meer gekonsentreer as die seisoen. Hulle hoort eenvoudig nie op hierdie vlak nie.

Die Sunwolves was stukke beter as verlede week teen die Lions, toe hulle 7-94 verloor het en 14 drieë afgestaan het. Daar was darem durf en een of twee mooi aanvalle en die lakwerk was aansienlik beter. Hulle is bloot deur beter opsies en gebruik van spasie deur die Stormers geklop.

Die Wolves het net 22 duikslae verbrou uit die 142 wat hulle moes maak – persentasiegewys beter as die Stormers se 20 broulakke uit 129.

In die geheel was daar nie veel struktuur in die wedstryd nie, want dit is wat die besoekers wou regkry teen ʼn span wat voorlangs heeltemal te sterk was.

Die Stormers het in die tweede helfte beter vertoon, en die rustydtelling van 19-10 reggestel om vyf drieë by die drie van die eerste helfte te voeg.

Dillyn Leyds was op heelagter uitstekend en is werklik ʼn man met buitengewone veelsydigheid en het twee drieë gedruk. Dit moes drie gewees het, maar hy het agter die doellyn so half as ʼn grap die bal vir Cheslin Kolbe gegooi wat toe sý derde gedruk het!

Damian Willemse was goed op losskakel, maar miskien nog nie die generaal wat in ʼn uitspeelwedstryd verwag word nie; en voorlangs het veral Steven Kitshoff na hy opgekom het en die skakelwerk van Nizaam Carr die oog gevang.

Puntemakers –

Stormers (10) 19: Drieë: Cheslin Kolbe 3, EW Viljoen, Seabelo Senatla, Damian Willemse, Dillyn Leyds 2. Doelskoppe: Willemse 4, Kolbe 2.
Sunwolves (15) 52: Drieë: Teruya Goto, Takeshi Hino. Doelskop: Ya Tamura. Strafdoel: Tamura.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaap Heymann ·

Was dit die vir Mnr Immelman nie het Stormers nie 28 punte gekry nie.Twee voorentoe aangee
en vleuls voor die skoppers .Laat hulle asb nie teen NZ spanne uitspeel nie dit gaan gahoes wees

Kosie ·

Stormers het reeds teen al vyf NZ spanne gespeel en twee daarvan gewen. Twee tuis en drie weg. Daar is ‘n goeie kans dat hulle weer ‘n NZ span in ‘n kwarteindstryd op Nuweland sal klop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.