Dallas-sewes word jonges se poort na Amerika

PG Espag – Amerikaanse beurs. (Foto: Verskaf)

Met die berig van nog ʼn Amerikaanse beursaanbod en die nuus dat verskeie Suid-Afrikanse spanne weer vanjaar aan die Dallas-o.19-sewestoernooi toernooi sal deelneem, lyk dit of dié toernooi ʼn nuwe poort na Amerika vir jong SA rugbyspelers skep.

PG Espag, een van Oryx (meerendeels saamgestel uit seuns van Overkruin en Pretoria) se uitblinkers by verlede jaar se toernooi, is pas ʼn beurs deur die Mount Olive-universiteit in Noord-Carolina aangebied. Sy pa, Gawie Espag, het in die jare tagtig vir Oostelike (die Uile) in die Carltonliga uitgedraf.

Vroeër is berig dat Richard Papenfus van Glenwood House ná verlede jaar se toernooi deur die Oklahoma-universiteit gewerf is. Papenfus sal na verwagting vanjaar die OU by die toernooi verteenwoordig.

In die lig hiervan kan fel mededinging verwag word om ʼn plek in die SA spanne wat vanjaar aan die toer deelneem.

Willem Strauss, die internasionale sportpromotor wat die toernooi reël, het juis teenoor Pale Toe! bevestig dat die SA spanne wat verlede jaar die toernooi en die plaatafdeling daarvan gewen het, hul titels sal verdedig. Daar sal ook ʼn paar nuwe deelnemers uit SA wees.

“Die SA All Stars, wat verlede jaar die beker gewen het deur ʼn Amerikaanse Akademiespan in die eindstryd te klop, en Oryx, die plaatwenner, sal albei weer in Dallas in aksie wees, en Quins-Bobbies-rugby (QBR) keer eweneens in Quins se nuwe gedaante terug.

“Nuwe spanne sluit die Zulu’s (Michaelhouse), die SA Rhinos en die Western Cape Warriors in. Laasgenoemde word afgerig deur die gewese Griekwa- en SWD-speler Bobby Joubert. Hy is tans die hoofafrigter van die Goue Bekerklub Durbanville-Bellville en die WP-sewesspan. Ryno Combrinck, ʼn gewese Blou Bul, rig die Zulu’s af.

Wêreldwyd hoog aangeslaan

Strauss sê SA sewesrugby word uiteraard tans wêreldwyd baie hoog aangeslaan en die SA spanne se vertonings verlede jaar het gewis daartoe bygedra om dié beeld in die groeiende Amerikaanse mark te versterk.

“Die SA All Stars-span, wat deur Ludwiche van Deventer afgerig word, is gewis weer tussen die gunstelinge om die toernooi te wen. Hy het onlangs die plaatafdeling by die internasionale o.19-sewes toernooi in Windhoek gewen deur die nasionale Duitse o.19-sewesspan oortuigend te klop.

Dié toernooi, wat ook deur Strauss georganiseer is, is deur die briljante o.18-Blitsbokke van Marius Schoeman gewen.

Vanjaar se Dallas-toernooi vind 15 en 16 Julie plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Arsène Lupin ·

Baie bly vir die talentvolle spelers – wat is hul kanse in hierdie land waar keuses gemaak word gebaseer op die kleur van jou vel. Ek sê Go Boys!! hier is ‘n deur wat vir julle oopgemaak word, gryp dit met albei hande, vergeet van die land met al sy politiek en probleme, en maak ‘n sukses van jul lewe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.