Dankie vir 38 toetsdrieë, Joost

Joost druk een van sy 38 toetsdriee. (Foto: The Sun)

Joost druk een van sy 38 toetsdriee. (Foto: The Sun)

Die laaste hoofstuk van sy lewe is dalk geskryf, maar die reis van Joost van der Westhuizen het nou eers begin.

Ek het as kind aan die lippe van my pa gehang wanneer hy staaltjies oor Viccie Toweel, Hannes (Kiewiet) Brewis en Hennie Muller vertel het.

Wanneer die son begin water trek, wanneer die kole begin gloei, is dit die regte tyd om die verhaal van Joost van der Westhuizen te laat herleef, om dit aan jou kinders en kleinkinders oor te vertel.

Ek was baie bevoorreg om oor sy loopbaan verslag te kon doen, oor sy 89 toetse, oor sy 38 toetsdrieë, oor sy heldedade in die Ligbloutrui.

Voor hom was daar ander legendes, maar daar was net een Joost van der Westhuizen.

Ek onthou toe ek hom die eerste keer in 1992 gesien speel en oefen het: goud, pure goud.

Hoe goed was Joost? Vra maar vir Justin Marshall, Matt Dawson en George Gregan.

“Joest! Just Joest!”

Ironies genoeg was daar ander spelers wat sekere dinge beter as hy kon doen. Johan Roux kon takties beter skop, Fourie du Preez (wat ná hom die toneel oorheers het) kon die bal beter uitgee en ook beter skop, maar wanneer Van der Westhuizen om die klein kantjie gebreek het, wanneer hy een of twee treë na regs of links gegee het en dan versnel het, het hy nie sy gelyke gehad nie.

Sy twee drieë teen die Skotte in 1994, hoe hy Jonah Lomu trompop geloop het in die Wêreldbeker-eindstryd van 1995, sy leeue-aandeel in 1999 se plan toe Jannie de Beer die Engelse in die kwarteindronde van die WB-toernooi stokflou geskepskop het, sy magdom drieë teen die All Blacks en Wallabies, sy triomf in die Curriebeker-eindstryd teen die Westelike Provinsie in 1998, was kroonjuwele.

Hy wou altyd voor hardloop, hy wou altyd die beste wees, hy was passievol, hy het dit gehaat om te verloor.

Hy was `n vegter; hy het in 1995 met `n gekraakte rib gespeel; hy moes in 1999 eerder `n knieoperasie ondergaan het as om in die WB-toernooi te speel, maar hy het geweier om te gaan lê.

Só het ons hom leer ken, totdat hy Maandagmiddag nie meer kon uithou nie …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stem saam ·

Ek sal beslis aan my kleinkinders die Joost verhaal vertel. Wat ‘n wonderlike terugkyk, kyk die deel wat uitstaan, hy het voluit geleef in net 45 jaar, wow legende in elke woord. Dankie Mroela ‘n lekker Joost berig, dit is wat ons nou wil lees!!!!!

Willem1 ·

Dis nou pure lees genot. Baie beter as gister se berig. Puik en wel gedaan Maroela.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.