‘Dankie Willem,’ sê Bul-ondersteuners

Willem Strauss. Foto: Verskaf.

Willem Strauss kan dalk die toonbeeld van selfvertroue wees wanneer hy op sy gemak met jou in ’n restaurant by Loftuspark gesels, maar dit is waarskynlik g’n maklike taak om die president van die Blou Bulle Rugby-unie te wees nie.

Selfs al beskik ’n span oor sterspelers en ’n uitstekende afrigterskorps, sal ’n gerondploetery in die raadsale ongetwyfeld na die vertonings op die veld deursyfer.

Ja, die Bulle spog met ’n Jake White, ’n Marcell Coetzee en ’n Morné Steyn in hul geledere, maar sedert Strauss die presidentsleisels vasgevat het, gaan die Pretorianers van krag tot krag.

Dit het weliswaar ’n paar dapper besluite geverg, maar die uniepresident lyk nie na iemand wat skrikkerig is om hulle te neem nie.

Die Pretorianers se strukture het in die Strauss-tydperk in plek geval, die ooreenkoms met Johann Rupert en Patrice Motsepe was die perfekte reddingsboei in moeilike tye, terwyl die aanstellings van White as direkteur van rugby en Edgar Rathbone as uitvoerende hoof meesterskuiwe was.

Die 57-jarige Strauss is al vir meer as 30 jaar in een of ander hoedanigheid by rugby-administrasie betrokke.

Daar was sy tyd by Suidoos-Transvaal (later die Pumas) waar hy onder meer die gladde oorgang van amateur- na professionele rugby gefasiliteer het, terwyl sy werk by die @lantic-sewestoernooie gesorg het dat sewesrugby behoorlike vastrapplek in Suid-Afrikaanse skole gekry het.

Strauss saam met die legendariese Frik du Preez. Foto: Verskaf.

“My pa het altyd gesê dat 30 jaar se ervaring oor 30 jaar kom. Ek doen hierdie werk uitsluitlik omdat dit my passie is,” het Strauss gesê.

Agter die skerms is daar verskeie redes vir die Pretorianers se jongste rugbysukses – soos die daadwerklike poging om die Bulle se tradisionele rugbywaardes te laat herleef.

“Loftus Versfeld se noordelike pawiljoen is vroeër na Frik du Preez vernoem; dit is immers danksy die sweet en harde werk van legendes soos hy wat die Blou Bulle se handelsmerk uitgebou het.”

Dan is klubrugby weer ’n krag in Pretoria.

Tukkies is die Varsitybeker-kampioenspan, Naka Bulle het vir die eerste keer in sy geskiedenis (nogal op regstreekse televisie) die Carltonbeker gewen en Northam Rhinos het die Lucas Strachan-trofee ingeoes.

“Vir die eerste keer in jare is daar ook weer klubspelers wat die unie se professionele spanne verteenwoordig. Sydney Tobias (wat vir Northam speel) is deel van die Bulls se Verenigde Rugbykampioenskap-groep, terwyl 15 ander klubspelers ook deel van verskeie Curriebekerspanne is.”

Volgens Strauss is ’n holistiese benadering een van die redes vir sy sukses as rugby-administrateur.

Foto: Verskaf.

“Ek is net so lief vir skool- en klubrugby as wat ek vir Jake se span is. As rugby in ’n streek of land wil groei, dan moet sy skole en klubs sterk wees.”

Die Bulls speel Saterdag teen Munster op Loftus Versfeld en volgens Strauss swaai die Suidelike Halfrond se provinsiale spanne lank nie meer die septer sonder enige teenstand op die internasionale verhoog nie.

Daar was byvoorbeeld 12 Leinster-spelers in die Ierse span wat met die All Blacks in Dublin afgereken het, terwyl daar net nie met die salarisse van Europese klubs meegeding kan word nie.

Plaaslik word ook gebrom dat die Bulls met ’n gekoopte span speel, maar volgens Strauss speel hulle eerder in die ligblou trui omdat hulle in die span se visie glo.

“Ouens soos Marcell en Johan (Goosen) kan waarskynlik drie keer meer by oorsese klubs verdien, maar hulle speel op Loftus omdat hulle vertroue in die handelsmerk, Jake White en die unie se visie het.”

O ja, rolspelers soos White en Rathbone gaan nêrens heen nie.

“Die lekkerste is wanneer mense my in ’n winkel voorkeer en bedank omdat hulle weer trots is op die Bulle.”

Johann Strauss was dalk ’n uitstekende komponis, maar Willem Strauss kan ongetwyfeld sukses op die rugbyveld orkestreer.

Die trofeekas op Loftus is immers weer vol en die Bulle se ondersteuners glimlag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andre ·

Dankie Willem! Ons kan die resultate van die goeie werk sien. Geluk aan jou en jou span. Ek voorsien nog baie goeie jare wat voorlê.

piet ·

Dit kan gebeur as jy jou span koop van oral ter wereld. Nie juis ‘n prestasie nie. Bulle het hul siel verkoop met al die huursoldate. Lankal nie meer tradisieryk nie. Die huursoldaat 15-tal.

Chris dupreez ·

Aag Piet, rugby is lankal n profesionele spel, daar is nie een span in die wereld wat nie gekoopte spelers het nie. Rugby is n beroep en jy gaan werk by n plek waar jy lekker gaan werk en die meeste geld kry. Vir seker doen die spelers dit vir hulle toekoms.

piet ·

Dis reg so maar moet dan nie kom spog ons is so en so nie, sit ons tradisie voort en so aan nie. Dis die huursoldate wat hulle aangekoop het wat hulle gebring het waar hulle is. Van 2 jaar gelede wat hulle absoluut useless was, koop hulle ‘n heel nuwe span en ‘n afrigter ten duurste en begin wen. Nou raak hulle weer wintie op die geleende perde se rug. Tssk…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.