Danny Jordaan red OP met munisipaliteit se geld

ep-kings-logoDie OP Kings sal wel in vanjaar se Curriebekerreeks speel nadat ʼn ondersteuningspakket  van R20 miljoen met die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit (NMM) beding is.

SA Rugby het gister in ʼn verklaring bekend gemaak dat die Curriebekerreeks steeds met nege spanne sal voortgaan – ses uit die franchise’e se unieds, en die drie wat in die opstellende ronde vir die Curriebeker gekwalifiseer het: Griekwas, die Boland en die Pumas.

Daar sal egter aanpassings aan die Curriebeker-bepalings gedoen moet word omdat die OP Kings in die stadium nog nie weet waar hy sy span vandaan gaan kry nie en ook nie wie hom gaan afrig nie.

Die pakket van R20 miljoen van die NMM, eintlik maar die belastingbetalers se geld, volg na samesprekings tussen SA Rugby en die munisipaliteit waar die burgemeester Danny Jordaan en sy span sterk insette gelewer het.

Jordaan-hulle se motivering vir hulle besluit is om die Nelson Mandelabaai-stadion van nog ʼn finansiele anker benewens die sokkerspan  Chippa United te voorsien.

Die NMM se raad het egter nog nie goedkeuring vir die pakket verleen nie. Dit sal glo ‘binnekort’ gedoen word.

♦  Maar die vraag ontstaan nou: wat as die ANC na die verkiesing nie meer in beheer van die metropool en Jordaan nie meer die burgemeester is nie?  Sal die nuwe burgemeester en raad dit ratifiseer?

Hoe die R20 miljoen-pakket bestuur sal word, sal klaarblyklik deur die finansieel-sukkelende NMM, die OP Rugbyunie se administrateur Monde Tabata wat deur SA Rugby aangestel is, die SA Rugbyunie en ook die likwidateur van OP Rugby (Edms) Beperk, bepaal word.

♦  Die OP Kings se wedstryd teen Griekwas wat vir die naweek bepaal is, sal nou later gespeel word nadat die Diamantvelders daartoe ingewillig het. Dit gooi nou ook van die ander bepalings uit.

Die rede vir die uitstel van die naweek se wedstryd is natuurlik om ‘leenspelers’ van ander unies te bekom vir die OP-span wat hoofsaaklik net juniors in sy strukture oor het – en natuurlik  om ʼn afrigter aan te stel.

Dit mag selfs Vrydag gebeur dat ʼn lys van die randeier-spelers by die ander unies se name en dié van die afrigter aangekondig word.

Dit is maar net ʼn herhaling van wat met die OPRU se Superspan, die Southern Kings, gebeur het – en dit lyk of die noodwendige gevolg ʼn verdere afwatering van die reeds kwynende Curriebekerreeks sal wees.

Daar word net drie wedstryde die naweek gespeel met die Lions wat weens hulle Superverpligtinge hul loslootjie ‘omgeruil’ het, en die wedstryd tussen  die OP en Griekwas wat uitgestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.