Dapper All Black teen Bokke sterf

(Foto: Twitter)

ʼn All Black (88) wat geloof is vir sy dapper vertoning in die derde toets teen die Springbokke in 1956 in Auckland is in dié stad in Nieu-Seeland oorlede.

Die losskakel Robin Archer het groot durf aan die dag gelê nadat hy sy skouer in die eerste helfte beseer het. Hy het as ʼn ekstra heelagter voortgespeel, al moes hy kort ná rustyd ʼn pynstillende inspuiting ontvang.

Plaasvervangers is destyds nog nie toegelaat nie.

Dit was nie ʼn gelukkige reeks vir hom nie. Nadat hy die vorige jaar in twee toetse teen Australië gespeel het, is hy ook in die eerste toets teen die Bokke ingespan, maar het ʼn ribbesring opgedoen wat hom gekniehalter het.

Hy het nie betyds vir die tweede toets herstel nie, en toe hy in die derde toets weer seerkry, was dit die einde van sy toetsloopbaan.

Die All Blacks het albei toetse met onderskeidelik 10-6 en 17-10 gewen.

Archer het in 1957 saam met die All Blacks deur Australië getoer en vyf drieë in die gewone wedstryde gedruk.

Hy het die bond Otago 24 keer verteenwoordig voor hy in 91 wedstryde vir Southland gespeel het.

Archer het laasgenoemde gelei in sy beroemde oorwinning van 23-6 teen Taranaki in ʼn wedstryd om die Ranfurlyskild (1959); en het op 35-jarige leeftyd uitgemunt in Southland se sege van 14-8 teen die Britse Leeus (1966).

Hy het ook die vorige jaar nog slim spel vir Southland teen Dawie de Villiers se Springboktoerspan gelewer, maar die Bokke kon darem met 19-6 wen.

Archer was, nes ʼn veel latere All Black met Suid-Afrikaanse bande, Alan Sutherland, ʼn vooraanstaande teler van renperde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.