Dapper Bokke verloor in Nieu Seeland

Dis gewoonlik kliphard tussen die twee spanne. Foto: sportblog.co.za

Dapper kaptein: Jean de Villiers in aksie teen die All Blacks. Foto: sportblog.co.za

 

Die Springbokke en hul ondersteuners sal steeds rooi sien ná vandag se 15-29 nederlaag teen die All Blacks op Eden Park in Auckland.

Terwyl die Bokke nie dieselfde vlak van spel as verlede week teen die Wallabies opgedis het nie, is dit feitlik onmoontlik om in totaal 50 minute lank met 14 spelers teen die beste span ter wêreld te speel. Nadat Bismarck du Plessis onbillik vir ’n hoogvat vir tien minute koelkas toe is in die eerste helfte, het hy op ewe onregverdige wyse vroeg  in die tweede helfte ’n rooikaart van die Franse skeidsregter, Romain Poite, ontvang.

Ewenwel, die All Blacks het die eerste plek op die puntelys by die Bokke afgeneem met hierdie sege. Hulle het tans 18 punte teenoor die Bokke se 14.

Die eerste helfte was ’n taamlik gelykop affêre met heelwat foute en taktiese skoppe deur beide spanne. Albei se skoppers, en veral Dan Carter, het vroeg reeds gepoog om die ander span te laat omdraai en só die druk op te laai en gebiedsvoordeel te bekom.

Die All Blacks het die eerste puntehou in die vyfde minuut geplant toe Kieran Read uit ’n lynstaan deur sy voorspelers oorgedryf is. Carter het die voorsprong tot 7-0 met sy doelskop gerek. Morné Steyn het die telling in die 10de minuut  met ’n lang strafdoel 3-7 gemaak.

Bismarck du Plessis, wat deurentyd  ’n opperste doring in die All Blacks se vlees was by die afbreekpunte, is in die 16de minuut met die gewraakte geelkaart afgestuur. Hy het Carter wettig geduik en hom sodoende vir die res van die wedstryd op die krukkelys geplaas. Die skeidsregter het gedink die vat was hoog en ’n geelkaart werd. Die All Blacks het hierdie numeriese en sielkundige voordeel ontgin toe Brodie Retallick onder die pale oorgeduik het vir sy span se tweede drie. Carter se plaasvervanger, Beauden Barrett, wat die drie moontlik gemaak het met sy breekslag deur swak Bokverdediging, het die telling ’n gebiedende 14-3 gemaak.

Bismarck du Plessis was skaars op die veld toe hy danksy ’n verwoestende dryfmaalbeweging deur  die manne in Groen-en-Goud se eerste drie gedruk het. Steyn het met die moeilike doelskop geslaag : 14-10.

Die All Blacks het direk daarna ’n strafskop ontvang vir obstruksie en Barrett het die rustydtelling 17-10 gemaak.

Bismarck du Plessis het ’n aanvegbare rooi kaart ontvang toe hy Liam Messam met die elmboog in die nek probeer afstamp het. Kort daarna het Read sy tweede drie gedruk toe hy onder die pale oorgebars het met die Bokverdedigers wat vergeefs probeer keer. Barrett het die maklik doelskop oorgeklits: 24-10.

Die Bokke se verdediging, een van hul grootste swak plekke in hierdie wedstryd, het ‘n geruime tyd goed gehou ondanks  die All Blacks se leeue-aandeel in feitlik elke faset van die spel. Ná 60 minute het die All Blacks byvoorbeeld 57% van die gebiedsvoordeel gehad.

Die All Blackflank, Sam Cane, het sy span se bonuspuntdrie in die 67de minuut gedruk ondanks Steyn en Coenie Oosthuizen se beste pogings om hom te stuit. Barrett het die doelskop verbrou: 29-10.

Twee All Blacks – Reid en Ma’a Nonu – het in die laaste 10 minute geelkaarte vir ongeoorloofde spel ontvang. Die Bokke se sterte was skielik in die lug danksy hierdie numeriese voordeel en Zane Kirchner het ‘n kruisskop van Steyn binnetoe geklap en Pat Lambie het oorgeval vir die Bokke se tweede en laaste drie.

Hierdie twee spanne ontmoet mekaar weer op die Bokke se heiligdom, Ellispark in Johannesburg, op 5 Oktober en Poite beter hoop daardie wedstryd word nie aan hom toegeken nie.

Puntemakers:

Suid-Afrika:

Drieë: Bismarck du Plessis, Pat Lambie.

Strafdoel: Steyn

Doelskop: Steyn

Nieu-Seeland:

Drieë: Keiran Reid (2), Brodie Retallick, Sam Cane.

Strafdoele: Barrett.

Doelskoppe: Barrett (2), Carter (1).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan van den Berg ·

Ek kannie verstaan dat SA dit net so aanvaar nie?? Dit was beslis twee baie onbillike beslissings!! SA sal nooit teen hulle wen nie, want hulle speel n sielkundige game met n klomp moffies!! n Driejarige seuntjie sal pyn beter hanteer!! Hulle is die grootste klomp akrobatiese akteurs in die wêreld!!

Simon Riekert ·

Gaan kyk na ons Facebook bespreking hieroor, ons sal nooit die emosie van verloor hieroor oorkom nie.

Trudé Nell ·

Dis jammer dat ‘n skeidsregter die reg het om ‘n potensieel uitstekende wedstryd man-alleen op te voeter. Waarom Hoë Standaard Gedragskodes nie ook vir hulle geld nie, sal ek nie weet nie.
Dis soos om iemand wat verbode middels gebruik toe te laat om, sonder penalisasie, verder deel te neem.
in vandag se geval was die verbode middle ‘n fluitjie. Mooi probeer Bokke!

Simon Riekert ·

Trude, ons het prober om die antwoorde by een van die top skeidsregters te kry, maar hulle ontwyk direkte antwoorde. Kyk gerus na ons Jaco Peyper artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.