Davies is Wallis se kaptein teen Bokke

Jonathan Davies. Foto: Charly Triballeau/AFP.

Jonathan Davies sal Alun Wyn Jones se kapteinskoene volstaan wanneer Wallis hierdie Saterdag teen die Springbokke in Cardiff speel.

Jones, wat verlede naweek sy 149ste wedstryd vir die Rooi Drake teen die All Blacks gespeel het, het vroeg in die eerste helfte die veld met ’n skouerbesering verlaat. Dit is intussen bevestig dat hy vir ’n hele paar maande op die kantlyn sal wees.

Wayne Pivac, afrigter, het altesaam ses veranderinge aan die span aangebring wat 54 – 16 teen die Kiwi’s vasgeval het.

In die beginspan sal Dan Biggar weer die no. 10-trui dra, terwyl Louis-Rees Zammit op regtervleuel sal uitdraf. Voorlangs gaan Rhys Carré en Tomas Francis sake teen die Springbok-voorry uitspook.

“As die Wêreldkampioenspan sal Suid-Afrika ongetwyfeld ’n unieke uitdaging bied. Hulle het ’n massiewe pak voorspelers, terwyl hul lugaanvalle ook vir iets anders sal sorg,” het Pivac gesê.

Wallis is volgens die jongste rugbyranglys die negende beste span op die internasionale verhoog, terwyl die Springbokke tweede op die punteleer is.

Rooi Drake: Johnny McNicholl (heelagter), Louis-Rees Zammit (regtervleuel), Jonathan Davies (kaptein en buitesenter), Nick Tompkins (binnesenter), Josh Adams (linkervleuel), Dan Biggar (losskakel), Tomos Williams (skrumskakel), Aaron Wainwright (agtsteman), Taine Basham (flank), Ellis Jenkins (flank), Adam Beard (slot), Will Rowlands (slot), Tomas Francis (stut), Ryan Elias (haker) en Rhys Carré (stut). Plaasvervangers: Bradley Roberts, Wyn Jones, WillGriff John, Ben Carter, Seb Davies, Gareth Davies, Gareth Anscombe en Liam Williams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.