De Allende ʼn móét vir enige Springbokspan

springbokke_vs_wereld15_inus_grobler_damian_deallende_004-300x200

Damian de Allende (Foto: Inus Grobler)

Dié keer was dit te verwagte. Die Springbokke het Donderdagaand op Nuweland ook die jaarlikse Nelson Mandela-uitdaagwedstryd ten bate van liefdadigheid  teen die Proteas verloor nadat hulle twee jaar gelede aan die wenkant was.

Dié keer hoef Allister Coetzee nie vir die vertoning pa te staan nie, want Graeme Smith het die Bokke as speler/afrigter bygestaan. Wat ‘kommerwekkend’ was, was dat Damian de Allende  die Proteas kruis en dwars oor die veld gejaag het (die boulwerk was bygesê van laerskool-gehalte) en straks sy plek in die span vir die volgende 20 jaar vasgemessel het.

♦  Jare gelede, toe rugby en krieket nog amptelike seisoene gehad het, kon albei sportsoorte beoefen word.

Ses spelers, Biddy Anderson, Tony Harris, Albert Powell, Alf Richards, Jimmy Sinclair en Percy Twentyman-Jones (in alfabetiese volgorde), het die nasionale rugbyspan (nog voordat hulle Bokke was) en die nasionale krieketspan verteenwoordig.

Richards was Suid-Afrika se eerste dubbele  internasionale speler toe hy in 1891 drie rugbytoetse teen Brittanje gespeel het. Hy het  in net een kriekettoets gespeel.

Powell het een rugby- (1891) en een kriekettoets in 1899 gespeel.  Hy is gevolg deur Anderson, wat drie toetse vir Suid-Afrika in 1896 teen Brittanje gespeel het, maar ook in net een kriekettoets.

Twentyman-Jones het drie keer vir die Bokke in 1896 gespeel en net een kriekettoets in 1902 teen die Aussies, toe hy in albei beurte vir nulletjies uitgehaal is.

Sinclair het 25 keer tussen 1896 en 1911 vir die nasionale krieketspan gespeel, maar net in een rugbytoets. Hy het Suid-Afrika se se eerste drie honderdtalle in toetskrieket aangeteken  en was ook die eerste speler wat ʼn honderdtal kon aanteken en vyf paaltjies (6/26 met sy bybreke) kon plattrek.

Hy het ook een van die vinnigste toetshonderdtalle aangeteken, Volgens Wisden het sy kolfbeurt 80 minute geduur  en is dit aangeteken ‘van sowat 79 balle af’.

Harris het voor die Tweede Wêreldoorlog  vyf keer vir die Bokke gespeel en tussen 1947/’49 drie keer vir die krieketspan.

Daar was baie Springbokrugbyspelers wat baie goeie krieketspelers was en andersom. Dink maar aan Dan van Zyl en Morné du Plessis. Schalk Burger (jr.) was ʼn uitmuntende rugby- en krieketspeler wat ná skool tussen die twee sportsoorte moes kies.  En wat van Conrad Jantjies? En Herschel Gibbs?

Peter Kirsten kon straks die Springboktrui gedra het as hy nie sy knie ernstig beseer het nie, Athol McKinnon het jarelank vir die Oostelike Provinsie stut gespeel terwyl hy vir Suid-Afrika krieket gespeel het en dan was daar ook die begaafde Lee Barnard (Springbokkrieket) en Gavin Cowley (Junior Springbokrugby).

En daar is nog vele meer …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oom Piet ·

Is ek reg as ek sê dat Eddie Barlow destyds vir Natal op senter uitgedraf het. Hy was ‘n baie
goeie krieketspeler.

Pieter Kruger ·

Eddie Barlow was op Pretoria Boys High op skool (waar hy ook rugby gespeel het) en het aan Wits gestudeer. Hy het senter vir Transvaal teen die All Blacks van 1960 gespeel, maar sy groot probleem was dat hy baie swak sonder sy bril (wat hy permanent in krieket gedra het) gesien het. Sy hantering was dus aan die dun kant.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.