De Ellendig? Ja, De Allende vir Bokke se 12-trui

Damian de Allende (Foto: Inus Grobler)

Wanneer die naam Damian de Allende twee maande gelede in ʼn gesprek opgeduik het, het die vlak van die diskoers in baie kringe sommer ver gedaal.

“Bedoel jy De Ellendig?” is daar baie keer gesê.

Maar nadat daar in die naweek berig is dat die huidige Boksenter, Jan Serfontein, ʼn uitgroeisel op sy bobeen het en na alle waarskynlikheid die toetsreeks van drie toetse teen Engeland sal misloop, sal daar na ʼn plaasvervanger vir hom gesoek moet word.

Geoordeel aan sy peil van die afgelope twee maande in die Superrugbyreeks, staan De Allende voor in die ry tussen die binnesenters.

Dis feitlik seker dat die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, vir Francois Steyn (Montpellier) sal betrek. Maar aangesien hý, Bismarck du Plessis, Ruan Pienaar (is hy nog verkiesbaar nadat hy Britse burgerskap gekry het?), Paul Willemse en ʼn rits ander Suid-Afrikaanse spelers op 2 Junie in die eindstryd van die Franse Top14-reeks sal speel, sal dit ʼn effense waagstuk wees om hulle vir die eerste toets op 9 Junie teen Engeland te oorweeg.

Die eerste keer in baie jare is die binnesenter-spens vol. Afgesien van Steyn en De Allende, kan daar ook in die rigting van André Esterhuizen (Sharks), Harold Vorster (Lions) en selfs na Francois Venter (Cheetahs), Rohan Janse van Rensburg (Lions) en Burger Odendaal (Bulls) gekyk word.

As dit werklik ʼn krisis is, kan Handré Pollard ook met vrug op binnesenter ingespan word.

Toe De Allende in 2014 deur die destydse Bok-afrigter Heyneke Meyer by die Springbokkamp betrek is, was hy ʼn ongeslypte diamant wat nog baie poleerwerk gekort het.

Hy het sy toetsbuiging later in 2014 teen die Argentynse Poemas op Loftus Versfeld gemaak en het reeds 28 keer vir die Bokke gespeel.

Ongelukkig is sy aanvallende vaardighede die afgelope twee, drie jaar soos dié van ʼn stampkar wat op sy teenstanders afpyl, hulle uit die pad probeer hardloop en baie keer vasgevat word. Geen visie nie, eendimensioneel en blote krag.

Dog, onder die Stormers-afrigter Robbie Fleck (ek glo die Nieu-Seelander Paul Feeney en Paul Treu het ook baie daarmee te doen) troon De Allende nou in die Superreeks uit.

Hy probeer nie meer met brute krag oor sy teenstanders hardloop nie. Hy skep geleenthede vir sy buiteagterspelers, sy aangeewerk het verbeter en hy swenk en systap weer, soos in 2012 toe hy vir die Ikeys in die Varsitybekerreeks en in 2013 vir die Westelike Provinsie gespeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

willie ·

De Elende sal eers nadat al die ander beseer is oorweeg moet word!

Anton KLD ·

Lekker lag ek nou vir Pieter se grap oor die uittroon.!! Stem nie saam dat hy uittroon bo die ander spelers soos genoem.
Sy spel is maar nog steeds net gemiddeld en verseker nie beter as die ander binnesenters in die reeks nie.

What a joke! ·

Gemiddeld is maar die standaard vir die Springbok span as dit kom by kwotas kies!

rollie ·

De Allende en Kriel is op vorm. Ouens soos Rohaan (dis nou ‘n stampkar) het met rasse skrede agteruitgegaan en Venter is te lig in die broek.

Buffel ·

Die Ellende is ‘n tipies kwota speler. Grootmeneer tot hy op toetsvlak moet presteer dan wys hy hoe middelmatig hy eintlik is.

rollie ·

Hy’s beter as die res wat ons het in SA (wat opsigself kommerwekkend is).

B-man ·

Hy het dan self erken dat hy een is… hy moes, anders was hy uit die span

rollie ·

B-man jy’s verkeerd. Hy het juis gesê dat hy nie ‘n “gekleurde speler” is nie. De Allende klink Portugeus, hulle is mos maar oor die algemeen “blas” van kleur (Meditereens)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.