De Villiers kap terug oor kwalifikasie

Peter de Villiers. (Foto: Facebook)

’n Mediastorm het rondom die gewese Springbok-afrigter, Peter de Villiers, losgebars.

Daar is berig dat die 62-jarige nie oor die nodige kwalifikasies (’n Vlak III-afrigtersertifikaat) beskik om die Southern Kings af te rig nie.

De Villiers, wat bekendheid verwerf het vir sy omstrede sêgoed gedurende sy tyd as Bok-breier, het weliswaar die o.21-IRR-Wêreldkampioenskap saam met die jong Bokkies gewen, terwyl hy aan die stuur van Springboksake was toe hulle die laaste keer die Drienasies-reeks in 2009 gewen het.

Hoewel daar destyds in baie kringe gemor is dat hy met die dienste van sommige van die beter Springbokspelers in die hedendaagse era soos John Smit, Fourie du Preez, Jacque Fourie, Bryan Habana, Bakkies Botha en Victor Matfield gesit het en dat húlle vir die span se sukses verantwoordelik was, was 2008 en 2009 van die Bokke se beste jare.

Die beleërde breier het hom tot sosiale media gewend om sy reputasie én kwalifikasies te verdedig.

Op sy amptelike Facebook-blad het De Villiers geskryf dat dit van groot kommer is dat daar in sekere media-instansies gesê word dat hy nie oor die nodige afrigterskwalifikasies beskik nie.

Hy het bygevoeg dat dit ’n opsetlike mediaveldtog is om sy poging te kortwiek om as die volgende afrigter van die Southern Kings aangestel te word.

Sy Vlak III-sertifikaat. Foto: Verskaf.

De Villiers het ’n beëdigde verklaring van die voormalige baas van SA Rugby, Oregan Hoskins, geplaas wat bevestig het dat sy kwalifikasies geverifieer is nog vóór sy Bok-aanstelling in 2008.

“Om die waarheid te sê, ek het my internasionale Vlak III-afrigtersertifikaat reeds in 1997 in Wallis behaal,” het De Villiers geskryf.

Hoskins het die oud-Bokafrigter verdedig.

“Ek het destyds persoonlik met Wallis se direkteur van afrigting gepraat en hy het self vir my bevestig dat Peter die kursus in Wallis voltooi het,” het Hoskins in die verklaring geskryf.

  • Hierby aangeheg is De Villiers se Vlak III-sertifikaat wat aan Maroela Media gestuur is.
  • Rapport het berig dat die Nieu-Seelandse breier van Samoa, Steve Jackson, die enigste oorblywende kandidaat vir die Kings-posisie is. Indien sy aansoek suksesvol is, sal hy eers ná die komende Wêreldbeker-toernooi in Japan by die span kan aansluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jimmy ·

Divvie het dit verkeerd. Dit is eers Vlak 1, dan Vlak II, dan Vlak III. Nie III, II en I nie.

Swartwolf ·

Hy was gelukkig om Jake se wereldbeker groep te erf. Hulle het vir ou Piet vertel wat om te doen. Weet nie wie die swakste coach was tussen hom en toetie, Kyk hy het bok rugby lelik opgeneuk. Rassie lyk beter ten spyte van die kwota doelwitte. Lyk my ‘n kwota afrigter maak meer skade as kwota spelers.

Anton ·

Wat se kwalifikasies het Zuma of Cyril en hulle het en is besig om die land te regeer.

Nico ·

Waarom het OP rugby hom on die eerste plek op ‘n kortlys geplaas. Hulle het geweet hy het nie ‘n wag voor sy mond nie voordat hulle hom op ‘n kort lys geplaas het nou soek hulle allerhande verskonings. Hulle wil maar die man van NZ hê. Het nêrens gelees dat hy berge versit het nie. Hoop maar hy kan hulle uit as uit optel. Ook die manier waarop Deon uitgewerk is wys dat hulle nie ‘n SA’er soek nie. Jy vat ook nie ‘n New Zeelander oor hy van daar af kom nie.

SjN ·

Sal graag wil weet wat is die norm/vereistes en prestasie meeting om aan dit te voldoen?

Coach ·

Ek sal nogal graag n vlieg teen die muur wou wees toe die ou aan die mompel daar by die huis geraak het oor die konsternasie….. Hahahahah. Seker soos Zet geklink! Hehehehe.

Koot ·

Div het die ou Vlak 1, 2 en 3. Die Kings en ander instansies(selfs ook skole), asook Boksmart vereis dat afrigters die nuwe IRB/World Rugby kwalifikasies moet hê. SA Rugby verloor baie afrigters op skole Vlak en spelers agv hul streng toepassing van Boksmart, veral by klein skole.

Judge Dredd ·

Persoonlik dink ek jou sukses met vorig afgerigte spanne behoort meer te tel as watter coaching kwalifikasie jy het.
Ek hou veral van afrigters wat iets kan uitrig by die kleiner bonde wat nie die geld of spelers van groter bonde het – dit is coaching.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.