Debakel-gesloer: oorspeel kan erge turksvy raak

Wêreldrugby (WR) se aanduiding dat hy bereid is om ʼn wedstryd in die aanspraakstryd met die oog op 2019 se toernooi om die Wêreldbeker (RWB) te laat oorspeel vanweë beswaar teen ʼn skeidsregter se hantering daarvan, kan vorentoe in ʼn ernstige turksvy ontaard.

Wat sal in die toekoms gebeur as ʼn blasersfout – soos al gebeur het – ʼn span in die RWB-kwarteindstryd of later uitskakel? Dit geld ook ander deurslaggewende kragmetings.

Waar gaan die streep getrek word?

WR se standpunt dui ook daarop dat die skeidsregter die laaste sê op die veld mag hê, maar nie in die raadsale nie. Daar sal voortaan selfs groter druk as tevore op blasers wees.

Die gesloer om die uitkringende debakel in die Europese aanspraak op ʼn regstreekse plek in 2019 se toernooi om die RWB te besleg, het dié sport se internasionale beheerliggaam genoop om met ʼn noodondersoek in te gryp.

Die kwessie sleep nou al byna drie weke lank onopgelos voort.

WR sê in ʼn verklaring wat hy Donderdag in Dublin uitgereik het, hy het ʼn onafhanklike regskommissie aangestel om die wedstryd tussen Spanje en België te ondersoek, en ʼn afsonderlike regspaneel om die optrede van bepaalde Spaanse spelers ná die eindfluitjie teenoor die skeidsregter te bekyk.

België het Spanje teen alle verwagting in geklop om die deur na Japan vir die Spanjaarde te sluit en vir Roemenië te open.

Spanje het die Roemeense skeidsregter van knoeiery beskuldig, en geëis dat die wedstryd oorgespeel word.

WR sê hy is “diep verontrus” oor die saak, en hoewel dit Rugby Europa (RE), die gewestelike beheerliggaam, se verantwoordelikheid is om sy eie ondersoek te doen, het hý (WR), met die RWB in gedagte, inligting oor die wedstryd aangevra en tot die slotsom gekom dat die wedstryd “in die belang van die spel” oorgespeel behoort te word.

Laasgenoemde is op sigself ʼn deurtastende stap, wat enersyds die skeidsregter se optrede afkeur, en andersyds ʼn gevaarlike presesedent skep.

Sedert die blaserstwis ontketen is, word ook beweer dat Spanje onwettige spelers gebruik het en WR het besluit om ʼn onafhanklike kommissie onder voorsitterskap van sy hoofregsman, ʼn senior Britse advokaat, Christopher Quinlan, te versoek om ʼn noodondersoek na die aangeleentheid te doen.

WR sê hy wil die saak so spoedig moontlik opklaar.

Quinlan is ʼn gerekende sportregsman en was, onder meer, ʼn jaar of wat gelede die voorsitter van ʼn kommissie wat die struktuur van die Britse perdewedrenbedryf ingrypend hersien het. Hy het reeds twee RWB-toernooie, ʼn Olimpiese Spele en ʼn Statebondspele as regshoof agter sy naam.

Ander sportsoorte wat sy diens gebruik sluit sokker, atletiek, seiljagvaart, swem, perdespring, motorsport, tennis, boks en gholf in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.