Deelhebber aan roemryke sege oor Bokke oorlede

Graham Williams (Foto: NS Rugbymuseum)

ʼn Rateltaaie All Black wat lid was van Wellington se span wat een van dié Nieu-Seelandse bond se roemrykste seges in sy bestaan teen die Springbokke van 1965 behaal het, is ná ʼn lang siekte in die stad Wellington oorlede.

Hoewel hy die All Blacks net in vyf toetse verteenwoordig het, was Graham Williams (72) ʼn legende vanweë sy gehardheid, en het hy tot met sy uittrede in 1976 in ʼn rekordtal van 174 wedstryde vir Wellington gespeel. Hy het nóg agt wedstryde op die All Blacks se toer van 1967 deur Brittanje gespeel.

Hy was ʼn lid van Wellington se agttal wat die 1965-Bokke verniel en die grondslag vir hul beroemde oorwinning van 20-3 gelê het. Dit word nou nog as waarskynlik die bond se beste vertoning in sy bestaan geag.

Williams, ʼn flank, het in sy speeldae nooit meer as 90 km geweeg nie, maar sy moed en hardwerkendheid was legendaries.

Toe sy een oor in ʼn wedstryd teen Auckland afgeskeur is, het hy dit eenvoudig aan die afrigter oorhanding en hom gevra om dit tot na die wedstryd vir hom te bêre. Dié het egter sy voet dwars gesit en Williams is onverwyld hospitaal toe gehaas om die oor weer te laat aanwerk.

By ʼn ander geleentheid het hy ʼn sny op die skeen opgedoen toe die span die bal die oggend voor ʼn wedstryd rondgeskop het. Hy het ʼn klompie steke gekry, die skeen is verbind, en hy was die middag op sy pos.

Op 65 het hy die nuus gehaal nadat hy sy skouer in ʼn gholfspel ontwrig het, maar geweier het om tou op te gooi. Was dit nie vir ʼn te kort sethou op die 18de putjie nie, het hy boonop gewen ook.

Williams het luidens berigte in die jongste tyd aan demensie en motorneuronsiekte (MNS) gelei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.