Deesdae moet jy ʼn wenrugbyspan koop

In die ou dae is daar gesê dat jy nie ʼn wenspan kan koop nie, vandag sal jy nêrens eindig as jy dit nie doen nie.

Jare gelede, toe Noord-Transvaal nog oorheers het, het Transvaal se rugbybaas, dr. Louis Luyt, die tjekboek uitgehaal.

Dink maar terug aan spelers soos Moaner van Heerden, Piet Kruger, Jannie Breedt, Pote Fourie, Heinrich Rodgers, Uli Schmidt, Philip Schutte, André Skinner, Rudolf Straeuli, Theo van Rensburg, Hannes Strydom, Chris en Charles Rossouw – almal Blou Bulle wat die ou Ben Schoeman-snelweg  aangedurf het. Dalk was van hulle maar net ontevrede met die behandeling wat hulle op Loftus Versfeld gekry het, maar ek glo ook nie dat hul vrieskaste leeg gestaan het nie.

Dit het nie dadelik vrugte afgewerp nie, want dit het jare vir Transvaal geneem om in ʼn behoorlike wenspan te ontwikkel, ʼn Superspan wat in 1993 en ’94 oorheers het.

Nadat rugby oplaas in 1995 die kettings van amateurisme afgeskud het, is daar salarisplafonne ingestel  om spanne, soos in sokker, te keer om die beste spelers af te rokkel.

In Brittanje en Ierland word dit streng toegepas, maar in Frankryk omseil die skatryk eienaars van die klubs dit deur onder meer die spelers in diens van hul maatskappye te neem om sodoende hul inkomste aan te vul.

In Engeland word daar nou baie vrae gevra oor die spelerswerwing by Gloucester, waar die oud-Leeus-afrigter Johan Ackermann en die gewese Ierse losskakel David Humphreys, die toutjies trek.

Gloucester het reeds die dienste van die Engelse losskakel Danny Cipriani (London Wasps), die veelsydige Matt Banahan (Bath) asook die Suid-Afrikaners Jaco Kriel (Lions) en Franco Marais (Sharks) bekom.

Daar sal binnekort nog aanwinste aangekondig word en volgens alle aanduidings is Franco Mostert, Rohan Janse van Rensburg en Ruan Dreyer (al drie Lions) en Gerbrandt Grobler (Munster) ook op pad.

Hoe kry Ackers-hulle dit reg?

Baie maklik, want tien spelers gaan Gloucester verlaat, soos die All Black-veterane John Afoa en Jeremy Thrush, asook die Skotse toetsspeler Matt Scott en die Walliese flank Ross Moriarty, wat huis toe gaan.

Dis almal hoogs betaalde spelers, wat baie maklik deur Suid-Afrikaners (met die rand se huidige wisselkoers op 18 rand teenoor die pond) vervang kan word.

Baie van die spelers voel ook verontreg omdat hulle nie behoorlik na waarde in Suid-Afrika geskat word nie.

Moet dus nie verbaas wees dat daar nog spelers oorsee sal gaan wanneer Rassie Erasmus sy Springbokspan bekend maak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vraagteken ·

Twak! Jy moet die span bou. Wat nou gebeur is die resultaat van geweldige druk; afrigters is nie bereid om tyd te investeer nie, so nou vat hulle die maklike pad en koop van die ander spelers. Al jou segenaamde goeie spelers was op ‘n tyd ‘nobodies’, maar iemand het met hulle gewerk en hulle gekweek.

Die spanne wat die ergste gaan beinvloed word is die Fraanse en Ierse nasionale spanne. Oor 5 jaar gaan hulle geweldig sukkel. Baie min kweek hulle jong spelers.

Frans C ·

Rugby soos sokker is tans ‘n beroepsport en net soos elke werkgewer die beste man vir elke posisie soek, soek afrigters die beste speler wat geld kan koop in elke posisie.
Die nadeel is dat geld nou alhoemeer belangrik word en met die swak Rand vertrek alhoemeer spelers oorsee,want ‘n rugbyspeler se loopbane is redelik kort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.