Derbystryd maak die speelveld (meer) gelyk

Dis ʼn ou-ou siening dat Suid-Afrikaanse derbies onvoorspelbaar is, ongeag die vorige vertonings van die betrokke spanne, en dit sal Saterdag (17:00) in die Baai wéér so wees wanneer die Cheetahs en die Southern Kings teen mekaar spel.

Dit is die eerste van hulle drie kragmetings in die Pro14.

Die Kings en die Cheetahs het albei verlede naweek skande gemaak. Die Kings het in een van sy swakste vertonings van die reeks groot pak gekry toe hy in Skotland met 37-7 deur Edinburgh verniel is.

Die Cheetahs het, ondanks beheer in die wedstryd, weens twee gekyktydige geelkaarte ʼn voorsprong teen Benetton weggegooi  en met 21-27 verloor.

Die Kings kla nou nog oor die bittere koue tydens hulle wedstryd. Saterdag sal hulle, op hulle tuisveld, kan regmaak wat verbrou is.

Die afrigter Deon Davids val steeds rond om uit die uitgedunde talent ʼn redelike span bymekaar te sit. Hy het in dié proses moontlik enige kans vernietig om kontinuïteit en spangees te bewerkstellig.

Toegegee, daar was ook heelwat beserings. Die feit is nietemin dat dit ʼn leierlose, ongemotiveerde trop is wat die eerste 20 minute per wedstryd redelik teenstand bied en dan onder druk sonder ʼn ordentlike en gebalanseerde wedstrydplan doelloos voorploeter.

Maar Saterdag se wedstryd is ʼn derby, en met sy ontwrigte agterlyn sal die Cheetahs moet fokus om hierdie, én die twee spanne se tweede wedstryd aanstaande naweek in Bloemfontein, te wen om op koers na ʼn uitspeelwedstryd te bly.

♦  Die Cheetahs en die Kings speel wel in afsonderlike afdelings, maar die Pro14, om vanjaar die twee Suid-Afrikaanse spanne te akkommodeer, moes aan die bestaande 12 spanne se eise toegee dat hulle steeds hulle derbies sal kan speel – iets waarvoor daar nie tyd buite die Pro14-reeks was nie.

Daar is toe besluit dat die spanne van elke land in die reeks (Ierland, Wallis, Italië en Suid-Afrika) benewens sy gewone (enkele) wedstryd in die liga ook twee wedstryde teen ʼn derby-teenstander sal speel.

In die geval van Suid-Afrika, met net twee spanne in die reeks, kom dit dus neer op drie wedstryde tussen die Cheetahs en die Kings waar alle spanne twee keer teen die ses teenstanders in hul eie afdeling speel, en een keer teen elk van die spanne in die ander afdeling – plus twee derbies.

Southern Kings
15 Yaw Penxe, 14 Michael Makase, 13 Berton Klaasen, 12 Martin du Toit, 11 Anthony Volmink, 10 Oliver Zono, 9 Rowan Gouws, 8 Ruaan Lerm, 7 Tienie Burger, 6 Eital Bredenkamp, 5 Bobby de Wee, 4 Stephan Greeff, 3 Pieter Scholtz, 2 Stephan Coetzee, 1 Schalk Ferreira (kapt.). Bank: 16 Michael Willemse, 17 Johan Smith, 18 Dayan van der Westhuizen, 19 Lindokuhle Welemu, 20 Freddy Ngoza, 21 Rudi van Rooyen, 22 Ntabeni Dukisa, 23 Harlon Klaasen.

Cheetahs
15 Clayton Blommetjies, 14 Craig Barry, 13 Nico Lee, 12 Niel Marais, 11 Makazole Mapimpi, 10 Fred Zeilinga, 9 Shaun Venter, 8 Uzair Cassiem, 7 Oupa Mohoje, 6 Paul Schoeman, 5 Reniel Hugo, 4 Justin Basson, 3 Tom Botha, 2 Torsten van Jaarsveld (kapt.), 1 Ox Nche. Bank: 16 Jacques du Toit, 17 Charles Marais, 18 Johan Coetzee, 19 Rynier Bernardo, 20 Junior Pokomela, 21 Henco Venter, 22 Zee Mkhabela, 23 AJ Coertzen.

Afskop: 17:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.