Derde 20-tal op ʼn ry vir Willie in Franse reeks

Die gewese Cheetahs-losskakel Willie du Plessis het Sondag sy derde twintigtal op die ry af in die Franse Top14-liga aangeteken.

Sy span, Montpellier Hérault, het weliswaar met 37-40 teen La Rochelle verloor, maar dis nie dat die gebore Pretorianer en oud-Affie en -Tukkie nie sy kant gebring het nie.

Hy het 22 punte aangeteken nadat hy dit die vorige week ook reggekry, en die week vóór dit 21 opgestapel het.

Sy bydrae het dié keer uit ʼn drie, vier doelskoppe en drie strafdoele bestaan.

Die plaasvervanger Duhan van der Merwe het nog een van Montpellier se drieë gedruk.

Hy het die SA Skolespan twee jaar as vleuel verteenwoordig, vir SA o.20 gespeel, en die Blou Bulle-trui verlede jaar in die opstelronde van die Curriebeker gedra.

♦ In nog ʼn wedstryd in dié reeks het die gewese Stormers-kaptein Deon Fourie ʼn drie vir Lyon in sy nederlaag van 20-23 teen Clermont Auvergne gedruk.

Engelse Premierliga

♦ Die Springboksenter Wynand Olivier het ʼn drie gedruk om Worcester met 14-9 te laat voorloop in sy kragmeting teen Newcastle in die Engelse Premierliga.

Newcastle het uiteindelik met 16-14 gewen.

♦ Die gewese Stormers-flank Don Armand het ʼn drie bygedra tot Exeter se sege van 36-12 oor Northampton.

♦ Petrus du Plessis, wat in Hermanus gebore is, het ʼn drie vir Saracens gedruk in sy sege van 27-9 oor Bristol.

Europese Pro12-liga

♦ DTH van der Merwe, die Kanadese vleuel wat in Worcester gebore is, het ʼn drie vir die Walliese streekspan Scarlets (Llanelli) in sy oorwinning van 30-8 in die Europese Pro12-liga oor die Ierse provinsie Connacht gedruk.

Die Bok-losskakel Marnitz Boshoff het ʼn strafdoel vir Connacht behaal.

♦ Carel Meyer (heelagter), wat in Pietermaritzburg gebore is, en Pat Howard (linkervleuel), wat vir SA o.20 en Superrygby vir die Stormers gespeel het, het die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons se twee drieë teen Edinburgh gedruk.

Die Skotse superklub het met 24-20 gewen.

♦ In nog ʼn wedstryd in dié reeks het die Bok Zane Kirchner, wat heelagter vir Leinster speel, ʼn drie gedruk wat die Ierse provinsie gehelp het om die Skotse superklub Glasgow Warriors met 31-30 te troef.

Engelse Kampioenskap

♦ Sebastian de Chaves, ʼn slot wat vir SA o.20 en Vodacombekerrugby vir die Goue Leeus gespeel het, het ʼn drie vir London Irish teen Doncaster gedruk.

Sy span het die kragmeting in die Engelse Kampoenskap met 35-3 gewen.

Franse Pro D2-liga

♦ Danré Gerber, ʼn gewese Bolandse senter en die seun van die Boklegende Danie Gerber, het twee strafdoele vir Mont de Marsan teen Dax in die Franse Pro D2-liga behaal.

Dax het met 17-13 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.