Derde toets: Getrou aan Franse tradisie

Guy Noves – verrassende keuses (Foto: FFR)

Die weë van die Franse rugbyafrigter, Guy Noves, is maar bra duister.

Nadat die Bokke Franse met 37-14 in die eerste toets op Loftus Versfeld geklop het, het hy sy span versterk vir die tweede toets op Kingspark deur die spelers van Clermont en Toulon te kies, wat nie op Loftus  beskikbaar was nie vanweë hul betrokkenheid in die eindstryd van die Franse Top14-reeks kort voor die toets.

Die Bokke het op Kingspark met 37-15 gewen, maar nou het Noves weer teruggeval op twee spelers wat op Loftus gespeel het en nie aan die verwagtinge voldoen het nie.

Die span toon drie veranderinge aan die span wat in Durban opgedraf het. Een was noodgedwonge weens ʼn besering.

Die heelagter Brice Dulin, die vleuel Nans Ducuing en die losskakel Jules Plisson is nadergetrek onderskeidelik in die plekke van Scott Spedding, Yoann Huget (harsingskudding) en Francois Trinh-Duc.

“Hoekom die veranderinge? Hoekom nie? Ons het ʼn bietjie van almal gesien, van sekere spelers meer as van ander en ek dink dis die regte veranderinge,” het Noves by die spankaankondiging gesê.

Die pak, wat sy man teen die Bokke gestaan het, is net so behou. Ook die vuurvreter-agtsteman, Louis Picamoles, wat vroeg die veld verlaat het.

Noves het ook na die besering van Huget verwys, wat die aanstormende stoomtrein, Coenie Oosthuizen, probeer keer het.

“Wanneer ʼn speler in die pad staan van ʼn speler wat 130 kg weeg, sy gesondheid in gevaar stel en gevaar loop om in ʼn rolstoel te eindig (dit het gelukkig nie gebeur nie), het hy moed. Ek is nie so seker dat enigeen van ons, insluitend myself, hom sou probeer keer het nie.”

Kan dié span die Bokke klop? Ek glo nie, want in die eerste toets was die Hane maar bra gemiddeld.

Maar, met die Franse weet jy nooit.

Franse –

15 Brice Dulin, 14 Nans Ducuing, 13 Damian Penaud, 12 Gael Fickou, 11 Virimi Vakatawa. 10 Jules Plisson, 9 Baptiste Serin, 8 Louis Picamoles, 7 Kevin Gourdon, 6 Yacouba Camara, 5 Romain Taofifenua, 4 Yoann Maestri, 3 Rabah Slimani, 2 Guilhem Guirado (kapt.), 1 Jefferson Poirot. Bank: 16 Clement Maynadier, 17 Xavier Chiocci, 18 Uini Atonio, 19 Paul Jedrasiak, 20 Loann Goujon, 21 Maxime Machenaud, 22 Francois Trinh-Duc, 23 Vincent Rattez

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.