Derde toets: is die glas half vol of half leeg?

Hoe vinnig kan dinge in rugby nie verander nie.

Slegs ʼn week gelede, voor die tweede toets tussen die All Blacks en Britse en Ierse Leeus in Wellington, het die skaal nog kwaai in Nieu-Seeland se guns geswaai: beste span in die wêreld, spelskeppers en spelbrekers, die vermoë om drieë te druk.

Hulle het die eerste toets in Auckland redelik maklik met 30-15 gewen en baie min kenners het die toerspan ʼn kans op ʼn reeksoorwinning gegee.

Maar almal weet wat verlede Saterdag in Wellington se koekblik-stadion in gietende reën gebeur het. Die All Blacks se koek het platgeval, Sonny Bill Williams is met ʼn rooi kaart afgejaag, Beauden Barrett het drie maklike strafskoppe verbrou en die All Blacks se afrigtingspan het ʼn paar vreemde besluite geneem.  Die Leeus het vasgebyt en met 24-21 gewen.

Die gewese Walliese en  Leeus-skrumskakel Mike Phillips voorspel die Leeus kan ook die derde toets wen en sodoende die reeks met 2-1 beklink. Só ook sê die Engelse en Leeus-losskakel Stuart Barnes en ʼn rits ander. Aikôna, sê die oud Engelse en Leeus-senter Jeremy Guscott, die All Blacks gaan net-net deurskraap.

♦  Kom ons kyk na ses faktore wat ʼn verskil kan maak.

Die Edenpark-tuisveldvoordeel: Die All Blacks het 37 opeenvolgende toetse op Edenpark gewen en laas in 1994 daar verloor toe die Franse die tweede toets met 23-20 gewen het. Net soos die sogenaamde spook van Loftus destyds geloop het, toe Noord-Transvaal in die tweede helfte ‘afdraande’ gespeel het, glo die All Blacks dat hulle ook ʼn bondgenoot het.

Hulle het sedert 1994 1 319 punte aangeteken en net 510 afgestaan. Wie kan daarteen stry?

Die waagstuk met jong Jordie Barrett: In 1994, juis toe die All Blacks laas op Edenpark verloor het, is die 19-jarige Jonah Lomu se leemtes op linkervleuel ontbloot. Die Franse het diep oor sy kop geskop en dan vlak geskop. Kan die Leeus dieselfde met die 20-jarige Barrett doen?

Ja, ja, die regtervleuel,  Israel Dagg, sal ʼn tweede heelagter wees; en ja, Beauden Barrett sal ook terugval om sy jonger boetie te help. Maar daardie eerste hoë skop kan die rigting bepaal.

ʼn Franse geurtjie. Romain Poite gee Suid-Afrikaners reeds jare lank sooibrand. As die All Blacks nie by sy vertolkings aanpas nie, sal dit tot hul groot nadeel wees. Ná die tweede toets is die Franse blaser Jérôme Garcès nie as Facebook-vriend by die All Blacks gevoeg nie, maar wie se skuld was dit?

Dissipline:  Die All Blacks kan nie weer bekostig om rooi- of geel kaarte af te staan nie. Só ook sal  die Leeus-stut Billy Vunipola in sy spoor moet trap. Maro Itoje sal nie op die onkantlyn kan boer nie en All Blacks soos Sam Cane en Ngani Laumape sal hul arms moet gebruik  wanneer hulle verdedig.

Drieë: Glo dit as wil, maar die Leeus het reeds  vier drieë gedruk en die All Blacks net drie.  Die All Blacks kan nie net op strafskoppe staatmaak om te wen nie – hulle sal die bal wyd moet rek, hulle sal hul kanse moet aangryp.

Skopwerk pale toe: Beauden Barrett het met drie maklike skoppe in Wellington misluk, maar sewe oorgeklits. Wie gaan pale skop: Beauden of Jordie?

Nou die groot vraag: Wie gaan wen?

Baie van ons was verlede week verkeerd, maar soos ek die All Blacks ken, gaan hulle verwoestend wees.

Spanne –

Nieu-Seeland
Jordie Barrett; Israel Dagg, Anton Lienert-Brown, Ngani Laumape, Julian Savea; Beauden Barrett, Aaron Smith; Kieran Read (kaptein), Sam Cane, Jerome Kaino; Sam Whitelock, Brodie Retallick, Owen Franks, Codie Taylor, Joe Moody. Plaasvervangers: Nathan Harris, Wyatt Crockett, Charlie Faumuina, Scott Barrett, Ardie Savea, TJ Perenara, Aaron Cruden, Malakai Fekitoa.

Britse en Ierse Leeus
Liam Williams, Anthony Watson, Jonathan Davies, Owen Farrell, Elliot Daly, Johnny Sexton, Conor Murray, Taulupe Faletau, Sean O’Brien, Sam Warburton (kaptein), Alun Wyn Jones,  Maro Itoje, Tadhg Furlong, Jamie George, Mako Vunipola. Plaasvervangers: Ken Owens, Jack McGrath, Kyle Sinckler, Courtney Lawes, CJ Stander, Rhys Webb, Ben Te’o, Jack Nowell.

Skeidsregter:  Romain Poite (Frankryk).
Assistent-skeidsregters: Jérôme Garcès (Frankryk) en Jaco Peyper (Suid-Afrika).
TV-skeidsregter: George Ayoub (Australië).
Afskop: 09:35 (SA tyd).
Verwagte weer: Koud, ligte wind en kans vir reën.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.