Dertien topspelers nie beskikbaar vir Namibië

Nie minder nie as 13 van die land se topspelers is nie beskikbaar vir Namibië se eerste wedstryd in die reeks om Afrika se nuwe Goue Beker nie.

Studies, beserings, familiekrisisse en ander verpligtinge beteken dat die span wat Saterdag in Mogadir teen Tunisië speel wesenlik verskil van die groep wat onlangs in Uruguay aan Wêreldrugby se toernooi om die Nasiesbeker deelgeneem het.

Behalwe die kaptein Renaldo Bothma (losvoorspeler) en die onderkaptein en voorste stelskopper Theuns Kotzé (losskakel), is ander staatmakers wat opvallend afwesig is Johan Coetzee (stut), Torsten van Jaarsveld (haker), Tjuee Uanive (slot), PJ van Lill (losvoorspeler) en die agterspelers JC Greylingh en Johan Deysel.

Rohan Kitshoff (losvoorspeler) is terug in die span, en neem die kapteinskap oor, met Eugene Jantjies (skrumskakel) die nuwe onderkaptein.

Thomaseu Forbes (flank) en David Philander (agterste drie) is eweneens terug in die span.

Terwyl die belowende jong losskakel Cliven Loubser ook nie beskikbaar is nie, word die veelsydige Lesley Klim op losskakel ingespan.

Die stut Desiderius Sethie, die haker Orbert Nortjé, die slot Max Katjijeko, en die vleuel Helarius Kisting het nog nie toetsrugby gespeel nie.

Tunisië is met die uitbreiding van die reeks tot die topvlak bevorder, maar die Namibiërs moenie uit die oog verloor dat die Noord-Afrikane tot dusver drie uit die nege toetse tussen die twee spanne gewen het nie.

Hulle kan dalk ook selfs erger hitte ervaar as dié wat hulle in Windhoek gewoond aan is.

Die groep –

Stutte: Collen Smith, AJ de Klerk, Desiderius Sethie, Casper Viviers. Hakers: Shaun du Preez, Orbert Nortjé, Louis van der Westhuizen. Slotte: Max Katjijeko, Mahepisa Tjeriko, Ruan Ludick. Losvoorspelers: Thomasau Forbes, Wian Conradie, Rohan Kitshoff (kaptein), Christo van der Merwe. Skrumskakels: Eugene Jantjies (onderkaptein), Damian Stevens. Losskakel: Lesley Klim. Senters: Darryl de la Harpe, Justin Newman. Agterste drie: Gino Wilson, Johann Tromp, Helarius Kisting, David Philander, Chrysander Botha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.