‘Diakens se span’ OP se nuwe kampioen

gardens`n Span wat deur `n kerk se diakens op die been gebring is, het Woensdag die Oostelike Provinsie se Grootuitdaagbeker gewen – teen `n span wat die afgelope jaar `n merkwaardige ommekeer in sy rugbykrag teweeg gebring het.

Gardens van Uitenhage het Port Elizabeth Harlequins 27-13 geklop, nadat die wedstryd nie soos beplan Saterdag afgehandel is nie omdat die die skeidsregter beslis het die veld van die Woolfsonstadion is nie op die BokSmart-peil nie.

Edgar Steyn, `n woordvoerder van Gardens, vertel die klub is in 1932 deur `n groep diakens gestig om die omgewing se jongklomp uit die kattekwaad te hou. Die eerste beker is skaars vier jaar later gewen en die die klub gaan sedertdien van krag tot krag.

Hy sê Gardens is die eerste klub wat sedert eenwording sy pad van die onderste liga deur elke liga – “vyf of sewe as ek reg onthou” – boontoe geveg het.

Dis die eerste keer in sy bestaan dat Gardens die Grootuitdaagbeker wen, nadat hy al `n slag tweede was. Hy het vroeër vanjaar ook die Oos-Kaapse Super12-reeks tussen klubs van die OP en Grens gewen.

Steyn sê die span het in geheel goed vertoon, met Margo Felix (slot), Darlington Gans (flank en kaptein) en AJ Maart (flank) wat veral uitgemunt het.

Nathal Forbes (agsteman), Kirwan Ceaser (senter), Gans en Felix het die kampioen se vier drieë gedruk. Renaldo Lewis (heelagter) het met drie doelskoppe en `n strafdoel geslaag.

PE Harlequins - logoPaleisrevolusie

♦ Niks minder nie as `n paleisrevolusie het die grondslag gelê vir Harlequins se gedaanteverwisseling binne `n jaar van `n sukkelspan tot `n Grootuitdaagfinalis.

Op pad na die eindstryd het hy sulke gedugte teenstanders soos Despatch in die kwarteind- en Park in die halfeindstryd uitgeskakel.

Willie Blundin, die adjunkpresident van Quins, sê die vorige bestuur is by die 2015-jaarvergadering vervang omdat dit onderling verdeeld was en nie die klub se belange op die hart gedra het nie.

In die nuwe bedeling sou die president met die spelers werk, en sy adjunk sou hom borgwerwing toespits.

“Ons moes seker maak dat die spelers die klub se wortels begryp en respek vir die klub se kleure toon. Hulle moes ook mekaar respekteer.

“Ons het al die ou spelers wat voorheen by Harlequins was gaan terughaal. Ons het gereeld met die spelers vergader en deurentyd die 2016-doelwitte by hulle ingeskerp.”

Blundin sê toe die nuwe bestuur oorgeneem het, was daar geen geld, toerusting, truie of balle nie.

“Borge het truie, klere en balle geskenk. Ander het geld bygedra.

“Om eenheid te bevorder, het al die spelers dieselfde uitrusting gekry om die nodige trots by hulle te kweek.

“Die bestuur was met elke oefening op sy pos en het die afrigters vervang. Toe ons aan die begin van 2016 al ons vriendskaplike wedstryde verloor, het ons die afrigter in die pad gesteek. Omdat ons `n hegte verhouding met die spelers gebou het, kon hy nie spelers afrokkel nie.”

Blundin se die wese van die sukses lê daarin dat die spelers eerste gestel is en deurentyd in die bestuur se vertroue geneem is.

“Ons hanteer die spelers met respek, en hulle toon wedersyds respek teenoor die bestuur.”

Met die oog op die toekoms het die klub die eerste keer `n o.21-span tot stand gebring en sy eie twee afrigters daaraan toegewys. Die span het die kwarteindronde gehaal.

Quins het ook `n junior afdeling gestig wat spanne vir o.13, o.14, o.15 en o.17 insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.