Dié agterlyn kan Dragons se vuur blus

Canan Moodie op pad doellyn toe. (Foto: GB Jordaan)

Jake White het weer eens ʼn opwindende agterlyn tot sy beskikking vir vanaand se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Dragons in Newport.

Die veteraanspeler Willie le Roux sal op heelagter uitdraf, met Sebastian de Klerk en Kurt-Lee Arendse die twee vleuels.

Dan is Canan Moodie, SA Rugby se jong speler van die jaar, saam met Harold Vorster die senterpaar, terwyl Chris Smith die vonk op losskakel moet verskaf.

Dit is die 21-jarige Moodie se eerste Bulls-uitdrafsessie van die seisoen op buitesenter nadat hy goed vir die Springbokke in dié posisie gespeel het.

Hy was André Esterhuizen se sentermaat in die Suid-Afrikaners se Twickenham-triomf teen die All Blacks nadat hy skaars die week vantevore ʼn speler van die wedstryd- vertoning in die no. 14-trui teen Wallis in Cardiff gelewer het.

Moodie se vaart, fyn aanvoeling vir die spel en visie op die rugbyveld beteken dat hy maklik die sprong tussen dié posisies kan maak.

Hy is iemand wat ʼn driedrukpoging uit niks kan skep, die bal uit die lug voor sy teenstander se neus kan wegpluk en ʼn speler wat met sy flinke voetwerk links, regs en vorentoe kan trap.

Die uitslag van ’n wegwedstryd is nooit ’n uitgemaakte saak nie, maar die Bulls behoort te veel skietgoed vir hul Walliese teenstanders te hê. ’n Oorwinning sal die span se plek op die amptelike punteleer verstewig – die Pretorianers beklee tans die derde plek met 40 punte ná 11 wedstryde.

Die wedstryd begin vanaand om 21:35 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Bulls: Willie le Roux (heelagter), Sebastian de Klerk (regtervleuel), Canan Moodie (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Kurt-Lee Arendse (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Marcell Coetzee (agtsteman), Mpilo Gumede (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortjé (slot), Ruan Vermaak (slot), Wilco Louw (stut), Jan Hendrik Wessels (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Johan Grobbelaar, Simphiwe Matanzima, Mornay Smith, Reinhardt Ludwig, Nizaam Carr, Embrose Papier, Johan Goosen en Devon Williams.

Willie le Roux begin op heelagter vir die Bulls. (Foto: GB Jordaan)

VRK-punteleer:

  1. Leinster: 44 punte ná 11 wedstryde
  2. Glasgow Warriors: 44 punte ná 12 wedstryde
  3. Bulls: 40 punte ná 11 wedstryde
  4. Munster: 39 punte ná 12 wedstryde
  5. Edinburgh: 34 punte nà 11 wedstryde
  6. Ulster: 34 punte ná 11 wedstryde
  7. Connacht: 33 punte ná 11 wedstryde
  8. Benetton: 32 punte ná 11 wedstryde
  9. Stormers: 30 punte ná 11 wedstryde
  10. Ospreys: 30 punte ná 12 wedstryde
  11. Lions: 29 punte ná 11 wedstryde
  12. Cardiff: 23 punte ná 12 wedstryde
  13. Zebre: 14 punte ná 11 wedstryde
  14. Scarlets: 12 punte ná 11 wedstryde
  15. Dragons: 11 punte ná 11 wedstryde
  16. Sharks: 10 punte ná 11 wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.