Die appel val nie ver van die boom nie

Nick Easter – Springbokoupagrootjie. (Foto: YouTube)

Hande op, vir watter rugbyspan het die oud-Engelse agtsteman Nick Easter se oupagrootjie rugby gespeel?

Vir die Springbokke!

Sy naam was Pietie (Petrus Abraham) le Roux, wat in 1906 drie toetse vir die eerste Springbokspan teen Ierland, Wallis en Engeland gespeel het.

Easter, 39, wat skynbaar nie te veel van sy oupagrootjie af weet nie (Le Roux is in 1954 in Kaapstad oorlede), het tussen 2001 en 2004 in 75 wedstryde vir Orrell (Manchester) gespeel, voordat hy na Londen verhuis het en tussen 2004 en 2016 Harlequins in ʼn rekordgetal van 281 wedstryde verteenwoordig het.

Hy het ook in 54 toetse vir Engeland gespeel, een daarvan as kaptein in 2010 teen Samoa.

Easter, wat nou Harlequins in Londen se verdedigingsafrigter is, was die afgelope paar dae in Suid-Afrika, waar hy, onder andere, by John Mitchell (Bulls) en Robert du Preez (Sharks) gaan kers opsteek het om sy kennis uit te brei.

Dit sê nogal baie, veral as in ag geneem word dat Harlequins se afrigtingspan uit 13 lede bestaan onder leiding van Paul Gustard, wat Eddie Jones se regterhand was.

Die afrigtingspan sluit ook die oud-All Blacks-losskakel Nick Evans, die gewese Walliese stut Adam Jones en die gewese Engelse losvoorspeler Tony Diprose in.

Gepraat van Springbokke wie se pa of oupa vir ʼn ander land gespeel het, duik die naam van Pat Lambie op. Sy oupa, Nick Labuschagne, het in vyf toetse vir Engeland gespeel.

Daar is ook ʼn magdom spelers wat toetsrugby speel, wat in ʼn ander land gebore is as dié een waarvoor hulle toetsrugby speel.

Volgens ’n ondersoek wat in 2017 deur rugby365.com onder 276 toetsspelers gedoen is, is daar bevind dat daar net een All Blacks-speler(Nepo Laulala) in Samoa gebore is, maar 11 spelers wat vir Samoa speel, het in Nieu-Seeland die eerste lig aanskou.

Die Franse ploeg al jare lank met buitelanders, veral Suid-Afrikaners soos Bernard le Roux en Daniël Kotze wat verlede jaar vir die Hane gespeel het. Om nie te praat nie van die gewese Springbokkaptein Wynand Claassen se seun, Antonie, wat in 2013 en 2014 in vier toetse vir die Franse gespeel het.

Die oud-Wallabyhaker en -kaptein Stephen Moore, wat 126 keer vir die Wallabies gespeel het, is in Saoedi-Arabië gebore, en albei sy ouers was Iere.

In verlede jaar se Skotse span was daar 12 spelers wat in ander lande gebore is, onder andere die Suid-Afrikaners WP Nell, Alan Dell, Cornell du Preez en Josh Strauss.

Die Iere spog met drie Suid-Afrikaners, CJ Stander, Rob Herring en Quinn Roux, maar in die huidige Argentynse span is daar net spelers wat in Argentinië gebore is.

Hoewel baie lande met spelers van Fidji ploeg, is daar, ironies, twee Fidjiaanse toetsspelers, Ben Volavola en Campoese Ma’afu, wat in Australië gebore is.

Soos almal weet, wemel dit in die meeste lande se toetsspanne van buitelanders, soos die geval met Australië, Japan, Italië, Amerika en Duitsland is.

Maar ʼn Engelsman wie se oupagrootjie vir die Bokke gespeel het?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.